Local newsNewsNews

Rubriek: Wie is werklik die skurk in die feëverhaal?

Die gemeenskap moet ook pa staan vir swak gedrag

Daar is baie ondankbare beroepe in die wêreld.

My vermoede is dat onderwysers en skeidsregters waarskynlik bo-aan hierdie lysie uittroon. Die afgelope paar weke het ek tot die besef gekom dat joernalistiek ook iewers onder die top 10 moet tel.

Ek sê altyd tong-in-die-kies dokters se foute word begrawe, prokureurs s’n word toegesluit agter tralies en joernaliste s’n word gepubliseer. Selfs al maak jy nie foute nie, is persepsies, emosies en onkunde soms ‘n resep vir ‘n molotov-mengeldrankie wat in jou gesig kan ontplof.

Selfdood-stories, geweld langs die rugbyveld en kaping-stories waarby minderjariges betrokke is, is alles stories wat met sensitiwiteit geskryf en aangebied moet word. Joernaliste en mediahuise word gereeld van sensasionele beriggewing beskuldig.

Op sosiale media is die leser die regter, jurie en laksman. Partykeer is dit geregverdig ander kere nie. Tog bestaan daar iets soos ‘n grondwet en ‘n perskode wat alle landsburgers beskerm. Met die ontstaan van sosiale media bestaan daar egter ‘n wanindruk oor wat vryheid van spraak behels. Gebruikers dink hulle kan onder hierdie dekmantel enigiets kwytraak.

Laster is ook ‘n term en konsep wat meeste mense nie heeltemal begryp nie. Voeg daarby die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (POPI-wet) en hy’t die resep vir ‘n vurige debat. Die toepassing van die POPIwet vir die gewone man op straat en vir die media verskil effens. Min mense weet dit.

Een van die hoekstene en maatstawwe van etiese en goeie joernalistiek is of ‘n betrokke storie in publieke belang is. Wanneer ‘n voorval in die openbaar plaasvind en daar ‘n redelike verwagting is dat ‘n foto of ‘n video geneem kan word, kan dit op sosiale media of in die koerant beland. As die aard van die voorval se omstandighede sensasioneel is, is dit inderdaad ‘n sensasionele storie. Punt. Stop.

Koerante berig oor nuusgebeure, ons maak dit nie. In plaas daarvan om ‘n betrokke voorval in konteks te beskou, of te probeer verstaan, wat die betrokke gemeenskap se moontlike bydrae kan wees, is dit makliker om ‘scapegoats’ te vind eerder as om in die spiel te kyk.

Sus maar jou gewete. Skeidsregters, joernaliste, afrigters en individue word toerekeningsvatbaar gehou vir hul optrede, besluite en foute, maar die groter sosiale euwels wat almal raak word nie aangespreek nie. Dis die kern van morele paniek.

Dikwels is dit ‘n geval van vandag word jy geprys en môre is dit die kruis vir jou. Daar moet altyd ‘n skurk in die verhaal wees. Maar wees versigtig. Jy mag dalk onwetend die skurk in iemand anders se feëverhaal wees.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button