Local newsNews

Bandvreter-slaggat ‘n gevaar put vir plaaslike motoriste

Die pad tussen Vanderbijlpark en Vaaloewer ry lekker totdat mens onverwags op DIE GAT afkom... en daar is al heelwat bande en meer verloor.

VAALOEWER – Die pad van Vanderbijlpark rigting Potchefstroom is heel rybaar totdat jy 10 km van die afdraai is of 5 km nadat jy van die N1 op die pad geklim het. Vandaar is dit nog so 5 km na Vaaloewer toe.

Presies daar is ‘n massiewe slaggat wat al amper dwarsoor die pad strek. ‘n Redelike diep gat waarin verskeie motors en vragmotors al bande verloor het.

Die hoë randsteen en die groot gat wat al amper dwarsoor die pad strek. Foto: Gerda Bruinette

Werk ook nie om om die gat te probeer ry nie, want die pad is aan beide kante uitgekalwe deur water wat die rand van die pad gevaarlik hoog maak.

In die aande is daar geen ligte nie en selfs in die dag is dit moeilik om te sien totdat mens amper reeds in die gat is.

Verlede Maandagoggend het daar 04:00 ‘n vragmotorongeluk plaasgevind en omstreeks 10:00 was nog ‘n vragmotor en ‘n ander trokkie in ‘n kop aan kop botsing betrokke.

Die vorige week het ‘n vrou haar motor daar gerol en verskeie motoriste het al twee bande op een slag verloor in ‘n poging om deur die gat te kom. Die boere van die omgewing en die inwoners van Vaaloewer is al radeloos.

Hulle het al keer op keer ingespring en self gate reggemaak, maar die spesifieke gat is net te groot. Volgens Wayne Kevern van die Vaaloewer Community het hul al groot stukke pad reggemaak op eie koste met die hulp van die boere in die omgewing asook FKA Hardware, maar die probleem is net te groot.

Verder dra die pad veels te veel verkeer. Dit was al die jare ‘n rustige pad, maar die inwoners sê die hoeveelheid groot vragmotors wat nou die pad gebruik het baie toegeneem die afgelope ses tot agt maande.

Party mense reken dis omdat die vragmotors die tolpaaie wil vermy, ander dink dis oor die weegbrug waar vragmotors gedwing word om te stop op die groter pad.

Die probleem is reeds by plaaslike raadslede aangemeld sonder enige sukses. Vaalweekblad het foto’s en inligting na mnr. Evert du Plessis gestuur. Hy is die DA se skaduminister vir padwerke en vervoer in Gauteng en het dit gerapporteer.

Die Gauteng Departement van Padwerke en Vervoer het laat weet dat hul bewus is van die toestand van die pad. Die pad is op hul lys om gerehabiliteer te word sodra die begroting uitgesorteer is.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button