VANDERBIJLPARK – “Daai missiele het reg bokant ons huis ontplof. Dit maak ‘n massiewe lawaai. Jou hele huis skud.
“Die slag is soos wanneer jy ‘n vuurwerkvertoning kyk, maar dit klink asof ‘n weerligstraal ‘n boom in jou erf slaan. Dit gebeur hoog in die lug, maar as die twee missiele mekaar tref is dit nogal scary, veral as die klomp missiele mekaar binne sekondes tref.”

Aan die woord is Michael Berendt, ‘n voormalige Vaaldriehoeker en leerling van die Hoërskool Vanderbijlpark wat saam met sy gesin vir die afgelope 18 jaar in Katar woon en werk.
Katar is bekend daarvoor dat dit een van die veiligste lande in die wêreld is, maar Maandag het Iran 19 missiele op Katar afgevuur in weerwraak op die VSA wat ‘n lugaanval op Iran geloods het.
Alhoewel dit klink asof Katar bewus was dat so ‘n aanval sou plaasvind, was die meeste inwoners onvoorbereid op die gebeurtenis.
Michael sê sy vrou, Marizelle, was op die tweede vloer van hul huis doenig toe die eerste missiele oor die see afgeskiet is. Sy het gewonder of Michael besig is om meubels te skuif.
“Ek het net vir haar geskreeu sy moet afkom, dis veiliger onder, want daar is missiele wat afgevuur word,” onthou Michael. Dis nie iets wat hy in sy lewe gedink het hy ooit vir sy vrou moes sê nie.
“Ons het net gestaan en opkyk toe die volgende sarsie missiele deurkom. Katar se lugmag kon 11 afskiet en een het die Amerikaanse lugmagbasis, nie ver van ons af nie, getref. Toe die eerste missiele mekaar tref het dit geklink asof die wêreld eindig.”
Niemand is in die aanval beseer nie en die skade aan die lugmagbasis was gering. Daar het wel oor ‘n groot area stukke van die missiele en ander skrapnel gelê.
“Daar was gelukkig niks in ons erf nie, maar enige een wat iets vreemds in hul erf sien lê het, moes dadelik die polisie skakel en dis vinnig verwyder.”
Alhoewel almal Maandagaand groot geskrik het, was dinge weer rustig teen Dinsdagoggend.
“Alles gaan normaal voort. Ek is terug by die werk. Die skole is wel vandag gesluit, maar hulle sou Donderdag sluit vir vakansie.
“Ons voel glad nie onveilig nie en het volle vertroue in die plaaslike regering dat hulle soos gisteraand enige verdere aanvalle sal kan afweer,” het Michael bygevoeg.
