Local newsNewsNews

Ek sê maar net… Missiele ontplof selfs oor ‘veilige’ lande

RUBRIEK - Ons vriende en familie is so wyd versprei in soveel lande en die skrik is groot as een van daardie lande skielik aangeval word.

RUBRIEK – Dit was ‘n aardige gevoel wat op my nugter maag oor my toegesak het. Dinsdagoggend. Ivan het dit eerste op ons viermanskap se groep geplaas. Iran het Katar met missiele gebombardeer.

Ek weet nie veel van Katar af nie, behalwe dat dit ‘n land is baie ver van hier en dat Michael en sy gesin al 18 jaar daar tuis is.

“Is julle okay?” Ivan se vraag. Ek hoop Michael sal laat weet dat dit baie, baie ver van hulle af plaasgevind het.

My moed sak in my skoene toe ek sien hy neem ‘n stemboodskap op. Ons groep bestaan gewoonlik net uit grappies, prentjies en ‘n oor en weer gekorswel oor wie se rugbyspan is die beste.

‘n Stemboodskap is ernstig. Dit was ook so. Iran se missiele is deur Katar se missiele afgeweer sowat 2km bokant Doha waar Michael-hulle bly.

Die Amerikaanse lugmagbasis wat getref is, is minder as 10km van hulle af. Hy probeer die geluide beskryf, maak dit af met dit was so bietjie scary wat later nogals scary word en sluit af met, maar alles is vanoggend weer normaal.

“Ek is by die werk.” Ek is sprakeloos geskok en drink sommer nog ‘n beker koffie. Myse Ford, Mich, het nog skaars by die werk staanplek gekry toe WhatsApp ek hom.

“Kan ek jou bel?” Vir ‘n storie, natuurlik, maar ook omdat hy een van ons is. Drie van ons vier was saam van graad een af. Al vier was saam op hoërskool.

Soos die jare na skool verbygeglip het, het die een of die ander maar altyd kontak gehad. Toe bakkiesblad verskyning maak het kontak makliker geword en wel ja, met WhatsApp saam en drie van ons wat in Vanderbijl bly, is kleintyd se vriendskapsbande versterk, verstewig en vas.

Ek het beter gevoel nadat ek self met hom gepraat het. Maar, as hulle wat in een van die veiligste lande in die wêreld sit, onder missiele deurgeloop het, wat dan van al my ander familie en vriende in die verre lande?

Die hele idee was dan juis dat hulle veiliger daar sal wees as hier. Onverklaarbaar. Onverstaanbaar.

Dit is soos dit is: dit reën missiele in die Midde-Ooste, ‘n kouefront bekruip Gauteng, in Vanderbijlpark is die kragnetwerk onstabiel, maar ten minste kan ons weer Sprinbokrugby kyk.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button