Local newsNewsNews

Die Vrystater wil Sasolburg in ere herstel

Hy was op sy dag hoofseun van Fonteine Primêr in Sasolburg, vandag is hy raadslid in sy geliefde dorp, daarop uit om dit weer skoon en veilig te kry.

SASOLBURG – Morné Pienaar is ‘n advokaat van beroep, maar ‘n Vrystater van hart. Hy is in Parys gebore. Later het hy sy skooljare by Fonteine Primêr in Sasolburg begin, waar hy ook in 1998 hoofseun was.

Daarna is hy Hoërskool Sasolburg toe waar hy in 2003 gematrikuleer het. Op skool was rugby en krieket sy lewe. Hy was skrumskakel op die rugbyveld, maar het veral sy krieket geniet as paaltjiewagter en kolwer vir onder andere die Vrystaat Skole span.

Na skool het hy twee jaar by die NWU Potchefstroomkampus geswot. Ongelukkig is sy pa aan die begin van sy derde jaar oorlede en het hy as tegnikus by die munisipaliteit begin.

Verder het hy deeltyds deur UNISA geswot en in 2011 sy LLB voltooi. Tussen al die studies het hy op verskeie plekke gewerk in Afrika, maar nooit sy droom om advokaat te word laat slaplê nie.

Morné is in 2015 toegelaat om as advokaat in die hooggeregshof te praktiseer. Hy het die liefde van sy lewe, Sarina in 2007 ontmoet en die egpaar is in 2011 getroud.

Vanaf 2009 – 2017 het hulle in Somerset-Wes gewoon en dis ook hier waar hul twee dogters, Nicole en Katelyn, gebore is.

Morné was en is nou eenmaal ‘n Vrystater en boonop ‘n Vaaldriehoeker. Teen 2017 was die gesin terug in Sasolburg waar hy sy eie besigheid begin het.

Dis hier waar hy per toeval deel van die plaaslike politiek geword het, nadat hy met mnr. Wouter Wessels op een van Sasolburg se sirkels begin gesels het.

Wessels het pamflette vir die VF+ uitgedeel. Hy was hoeka nie gelukkig met die toestand waarin die dorp verval het nie en kort voor lank was Morné nie net ‘n raadslid nie, maar ook aan die stuur van verskeie projekte van ‘n voedingsskema tot by die beveiliging van sewe substasies, die regmaak van slaggate en die instandhouding van parke.

Intussen maak hy seker kommunikasiekanale word so ver moontlik oopgehou en bestuur hy twee Facebookgroepe en vyf WhatsApp-groepe.

Alhoewel dit mag klink of hy 24 uur besig is, maak hy ‘n punt daarvan om tyd saam met sy gesin te spandeer.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button