AfriForum terug in hof oor Wonderfontein-ontwikkeling
Die saak is voorlopig vir 7 Augustus op die ongeopponeerde hofrol in die Hooggeregshof in Bloemfontein geplaas.
SASOLBURG – AfriForum het verlede week hofstukke op die minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, die Vrystaatse Departement van Menslike Nedersettings en die Metsimaholo Plaaslike Munisipaliteit beteken in ’n poging om die Wonderfontein-ontwikkeling tussen Sasolburg en Vanderbijlpark in sy spore te stuit.
Dit volg nadat die minister sonder verduideliking of genoegsame motivering goedkeuring aan die departement gegee het om met die ontwikkeling voort te gaan.
Dit ondanks die feit dat die oorspronklike voorwaardes nie nagekom is nie.
Die munisipaliteit en betrokke departement het vroeër vanjaar aansoek om vryskelding by die minister gedoen nadat hulle vir vyf jaar lank versuim het om aan die vereistes, soos uiteengesit deur die Metsimaholo-beplanningstribunaal, te voldoen.
Die vryskelding maak voorsiening vir ’n verdere vyf jaar om aan die vereistes te voldoen.
Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se hoof vir die Sentraalstreek, is die minister se besluit om die vryskelding toe te staan ondeurdag en strydig met die gemeenskap se belange.
