Local newsNewsNews

Gerda Senekal: ‘Dit was ‘n laagtepunt in my loopbaan’

Die ystervrou van die VF Plus in Emfuleni is die afgelope 20 jaar kampvegter vir alle inwoners as dit by munisipale sake kom.

VANDERBIJLPARK – Toe die Town Substasie onlangs vir die tweede keer in dieselfde maand brandskade opgedoen het, en inwoners weer sonder elektrisiteit gelaat is, het gemoedere opgeborrel en tot die laagste punt in raadslid Gerda Senekal se polisitieke loopbaan gelei.

“Wanneer jy kies om in die politiek te dien, kies jy die pad – met sy op- en afdraandes. Maar niemand kies die onaanvaarbare vlakke van intimidasie, dreigemente en mondelinge mishandeling wat ek onlangs moes verduur nie,” sê Gerda.

Dit was grootliks te wyte aan ‘n stemnota wat deur ‘n ontevrede individu versprei is, wat haar wêreld onderstebo gekeer het.

In die stemnota word Gerda valslik daarvan beskuldig dat sy mense afkraak en belieg.

Wat die stemnota nog meer skokkend maak is dat die idividu geweld teenoor haar aangemoedig het met verwysing na aanranding, verkragting en selfs om iemand vir dood agter te laat.

“Dit is ver van waarvoor ek myself ooit ingespan het,” sê Gerda.

Raadslid Gerda Senekal.

“Ek het jare gelede besluit om die politieke platform te gebruik om ’n stem te wees vir diegene wat nie vir hulself kan opstaan nie.

“My stryd was nog altyd vir geregtigheid, dienslewering en die opheffing van my gemeenskap. Ek is diep passievol oor die mense wat ek dien. Maar selfs in tye van frustrasie en moedeloosheid, behoort ons menslikheid nie plek te maak vir haat en geweld nie.

“As politikus leer mens deur die jare om ’n dik vel te hê. Maar agter daardie vel is daar steeds ’n mens wat voel, liefhet en seerkry.”

Gerda dra egter geen wrok teen die persoon wat die stemnota versprei het nie. Die man wat homself as Dirk bekend gestel het op die stemnota, het glo agterna vir Gerda gekontak en om verskoning gevra vir die stemnota. Maar die skade was reeds gedoen.

“Maar ek wil vra: onthou asseblief dat ons as raadslede ook mense is met gesinne en met beperkte kapasiteit. Ons probeer elke dag om te doen wat ons kan, maar selfs ons het grense.”

“My doel bly onveranderd: om my gemeenskap se lewensgehalte te verbeter. Ek sal aanhou om daardie stryd te stry met waardigheid, vasberadenheid en liefde vir die mense wat ek dien. Ek sal altyd veg vir julle,” sluit Gerda af.

Raadslid Gerda Senekal van die VF Plus in Emfuleni hou ‘n ogie oor die herstelproses by die Town Substasie toe daar onlangs weer groot probleme was. Foto: Elsje Vermeulen

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button