Sasolburg Voortrekkers geniet hul projekte
By die Sasolburg Voortrekkers gebeur daar altyd iets. Verlede kwartaal was hul omtrent op 'n drafstap aan die gang.
SASOLBURG – Die Voortrekker kommando was bedrywig die afgelope drie maande. Chirna Kruger sê een van hul hoogtepunte was hul nartjie fondsinsamelingsprojek. Oud en jonk het saamgespan om 3.6 ton nartjies te verpak en te verkoop.
29 Mei het die Vories Hemelvaart saam met 4 Ankers Gemeente in Sasolburg gevier, waar hul bederf is met spookasem.

Kort daarna was hul deel van NG Fonteine se fondsinsamelingsprojek waar ʼn span manne vir 24 uur ʼn stilstaande fiets gery het. Die Voortrekkers het hul by die manne geskaar en besluit om vir Afrikaans is 100 fiets te ry.
Oorspronklik sou hul net 64 km (op ʼn stilstaande fiets) gery het, maar hulle het dit so geniet dat hul uiteindelik 240 km op die oefenfietse gedoen het.

Al is hul nou op vakansie, beplan hul reeds groot dinge vir kwartaal 3. So wag daar kuiersessies by ouetehuise in die dorp en ʼn kamp of twee om by te woon. Hulle sien ook uit na die groot pannekoekaand op 30 Julie.
Die Voortrekkers fokus op Afrikaans, Burgerskap en Christenskap. Enige een is welkom om aan te sluit.
Die Sasolburg kommando vergader Woensdae om 17:15 by Brillstraat 20, Sasolburg. Vir meer inligting kontak Chirna Kruger by 083 5466 998
