D.F Leiers kuier by Jeugland tehuis vir bejaardes
Die bejaardes het dit geniet, die leerders was bietjie senuweeagtig om die bakkies sop rond te dra, maar dit was steeds 'n dag wat almal met 'n glimlagte gelaat het.
VANDERBIJLPARK – Vlak voor die skole amptelik gesluit het, het Juvan de Lange (Graad 11) besluit om ‘n besondere dag te reël. Hy het verlede jaar reeds begin om gereeld by die inwoners van Jeugland te gaan kuier.

Hy het in samewerking met die leiers van die Laerskool D.F Malherbe gereël om ‘n konsertoggend by Jeugland te hou.
Daar was alles van voordragte tot danse. Om 11:30 het die hele leierspan van D.F opgedaag.
Van die ouers het verskeie tuisgemaakte sop gekook en die tafels het gekreun met allerande lekker brood en broodrolletjies.
Onder die wakende oog van die kombuispersoneel en onderwysers is die sop en broodjies deur die jongspan uitgedeel.
Waar nodig is ‘n helpende hand gegee om ‘n broodjie te smeer of kleiner te sny.

Die bejaardes in die siekeboeg is ook nie agterweë gelaat nie en die trollies met bakkies sop is met groot konsentrasie na bo geneem.
Almal het lekker geëet en daar is ook geskenkpakkies uitgedeel alvorens die leerlinge terug skool toe is.
