Local newsNewsNews

SA bokskampioen is gereed om ‘pro’ te draai

Die SA Amateur Bokskampioenskappe is verlede week in Pretoria gehou en al 9 provinsies was goed verteenwoordig. Vanderbijlpark se Christo Lewis het vir Gauteng deur die toue geklim.

VANDERBIJLPARK – Die Vaal spog met ‘n nuut-gekroonde SA bokskampioen in die Cruiser-divisie (81 – 85 kg).

Christo (25) het as Gauteng-kampioen in sy divisie, teen drie teenstanders (Thabo Sikhosana van KZN, Wulama Anje van die Oos-Kaap en John McNeil van Gauteng) om die gesogte titel meegeding.

Christo se eerste geveg was teen Wulama Anje van die Oos-Kaap vir die semi-finale. Christo het met ‘n uitklophou in 2 minute 30 sekondes in die 2de ronde gewen.

Sy tweede geveg was teen John McNeil van Gauteng in die finale. Hy het ‘n eenparige beslissing na 3 rondes in sy guns gekry om as die nuwe SA kampioen gekroon te word.

Christo ontvang sy goue medalje tydens die SA Amateur Bokskampioenskappe.

Christo word deur die bekende oud-bokses, Basil Ray van Vanderbijlpark afgerig. Basil is ‘n baie streng afrigter en hy verwag niks anders as 100% van al sy boksers nie.

Geen verskonings word aanvaar nie, want hy weet wat dit verg om 12 rondtes in ‘n bokskryt te wees.

Hy is toegewyd wanneer dit by sy boksers kom … soos ‘n pa! Hy probeer elke bokser help om hul volle potensiaal te bereik.

Christo besef dat baie van sy sukses aan Basil se uitgebreide kennis van boks (wat oor 46 jaar strek) te danke is.

Daar is egter geen blaaskans vir Christo nie, want die sukses by SAs is net die begin van sy droom.

Christo wil ‘n wêreldbekende bokser wees, en met Basil in sy hoek as afrigter, promotor en bestuurder is dit ‘n haalbare droom.

“Ons is besig om sy pro-lisensie te kry, daarna volg ontwikkelingsgevegte op groot veg-geleenthede, en later natuurlik hoofgevegte,” verduidelik Basil.

Selfs Christo se oefeninge gaan nou meer intens en harder wees, omdat professionele boks dit vereis.

“Dit is die loopbaan wat ek kies. Ek wil professionele bokser wees en is gereed vir die nuwe uitdagings en vereistes,” sluit Christo af.

Christo en Basil in die bokskryt by die Basil Ray Boxing & Fitness Gym in Vanderbijlpark, waar Christo afgerig word. Foto: Elsje Vermeulen

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button