ELM moet slimmer wees oor slimmeters
VANDERBIJLPARK - Hoewel almal besef dat slimmeters inwoners van Emfuleni se voorland is, is verskeie mense en opposisie partye van mening dat (Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit) ELM slimmer te werk kon gegaan het met die implementering daarvan.

“Die Emfuleni-munisipaliteit se besluit om inwoners wat getrou hul kragrekeninge vereffen se konvensionele en voorafbetaalde kragmeters met slimkragmeters te vervang, is nie goed deurdink nie,” meen raadslid Gerda Senekal van die VF Plus.
“Ons is nie gekant teen die installering van slimmeters nie, maar is van mening dat wanbetalers eerste slimmeters moet kry,” sê sy.
Die feit dat daar ook nie ‘n openbare deelnameproses gevoer was met inwoners van onder meer ‘n groot deel van die SE- ,SW-gebiede en Drie Riviere (waarvoor 4 827 voorafbetaalde kragmeters geoormerk is nie), draby tot die ongelukkigheid.
“Inwoners van dié gebiede betaal getrou hul kragrekeninge terwyl inwoners in ander gebiede hul kragrekeninge ignoreer, kragmeters omseil of krag steel. So nou word die slimkragmeters geïnstalleer om wanbetalers vas te vat en ‘n inkomste vir die munisipaliteit te genereer,” verduidelik Senekal.
Die party het in ‘n brief aan die munisipale bestuurder, April Ntuli, die volgende vrae gerig:
• Waarom is daar geen voorafgaande kommunikasie met inwoners gevoer nie?
• Wat is die kontraktuele ooreenkoms tussen die Emfuleni-munisipaliteit en BXC-kontrakteurs, en wie hou toesig oor hul werksaamhede?
• Waarom word gereelde betalers van slimmeters voorsien, terwyl huishoudings wat geen meters het om hul kragverbruik te meet nie uitgesluit word?
“Die VF Plus doen ‘n beroep op Emfuleni om hierdie kwessie dringend te hersien, deursigtige kommunikasie te prioritiseer, en ‘n regverdige en inklusiewe proses te volg vir die uitrol van slimkragmeters,” sluit Senekal af.
