Rubriek: Ironie so subtiel soos ‘n geweerskoot
Om vir meer as 30 ure op ‘n toerbus te wees is nie kinderspeletjies nie. Tensy jy boude van staal soos ‘n Tour de France fietsryer het, gaan jou sitvlak les opsê. Gooi hope hormoonbelaaide puisie gevreetjies daarby en jy het ‘n resep vir ‘n uitdagende tyd. Vra maar vir die Namibiese Privateskole Organisasie (Napso) …

Om vir meer as 30 ure op ‘n toerbus te wees is nie kinderspeletjies nie. Tensy jy boude van staal soos ‘n Tour de France fietsryer het, gaan jou sitvlak les opsê.
Gooi hope hormoonbelaaide puisie gevreetjies daarby en jy het ‘n resep vir ‘n uitdagende tyd. Vra maar vir die Namibiese Privateskole Organisasie (Napso) se rugby-, hokkie- en netbalspanne wat verlede week aan die 10de Rhinoweek in Vanderbijlpark deelgeneem het. Ek moet bieg ek het half skuldig gevoel toe ek grinnik oor hul spanne se uitrustings.
Die klerasie as sulks was stylvol en spoggerig in blou en rooi. Wat die duiweltjie op my skouer wakker gemaak het, was die borg wat op die span se sweetpak-baadjies gepronk het. Air Namibia…
Die ironie daarvan was so subtiel soos ‘n geweerskoot! Kon hulle nie maar ‘n vlug geborg het nie? Maar, nou ja dis seker ‘n duur spul om meer as ‘n 100 spelers en afrigters van Windhoek tot Johannesburg luglangs te karwei. Ek het later die week besef hoe drasties Suid-Afrika se sosio-ekonomiese samestelling verander het.
Suid-Afrika se middelklas is besig om te kwyn. En vinnig ook. Die rolle van voorheen benadeeldes en diegene wat as die bevoorregtes beskou is, is nou omgeruil. Vanuit ‘n plaaslike oogpunt het baie spelers wat vir die onderskeie Sedibeng-spanne gekies is, geraap en geskraap om die punte van die wors bymekaar te bring.
Was dit nie vir Vaal Mall en sy huurders wat as borg ingespring het nie, sou die vonkel in baie hoopvolle kinderoë verdof het. Dinge daar buite is rof. Met die onstuimige politieke klimaat, plaaslik en internasionaal, en wêreldvrede wat aan ‘n dun draadjie hang is die vooruitsigte maar bleek.
Vleispryse gaan deur die dak skiet en tariewe wat teen Bricks-lande ingestel word, gaan die lewe vir ons landsgenote baie moeilik maak. Soos die Engelse gesegde lui: “Charity starts at home!” Die les wat ek geleer het, is dat ons Vaaldriehoekers gaan moet saamstaan.
Daar lê harde tye vir ons voor. Staan sterk.
