Ek sê maar net… Groot moeg werp week omver
RUBRIEK - Die wyse manne en vroue sê kry 'n vasgestelde slaap patroon, maar soms wat mens 'n "middagslapie" op die verkeerde tyd.
RUBRIEK – Laas Maandag was ‘n besige dag by die werk en ek was redelik moeg toe ek by die huis kom. Vinnige aandete en toe gaan plak ek my op die bed neer met ‘n boek.
My oog vang die tyd. Dis net na 17:00. Derde bladsy besef ek die letters swem voor my oë. Sit boek neer en besluit om net bietjie te rus voordat ek skottelgoed was.
Ek raak weg. Droom ek is terug in die skool. Ek skrik wakker toe ek die bure se bakkie hoor. Dink dadelik ek het verslaap en is laat vir werk.
Loer op die foon dis 21:36. My bietjie rus was meer as 4½ uur. Ek het myself skoon deurmekaar geslaap. Drink my aandpille, gaan sit die voorste ligte af en trek weer die boek nader.
Verwag dat die slaappil en die pynpille vir my stuitjie (wat twee weke na my groot val steeds seer is) gaan inskop. Verdiep my in die boek.
Op ‘n kol beloer ek weer die tyd. 02:00! O vrek, ek sal moet gaan slaap. Vaak is ek nog nie. Besluit om warm melk te maak. Met die voorste lig aan ontdek ek weer die skottelgoed.
Daar staan ek toe eers en skottelgoed was. Raak uiteindelik naby aan 03:00 uur aan die slaap. Skrik wakker toe die alarm afgaan. Merk dis die tweede een.
Ek stel altyd twee alarms, ‘n uur uitmekaar uit om seker te maak ek kom in beweging. Die eerste een het ek nie eens gehoor nie.
Twee koffies later is ek by die deur uit en op pad na my eerste onderhoud. Natuurlik was dit ‘n lang dag en Woensdag nog erger.
Dit gebeur as mens ‘n “middagslapie” vroegaand wil vat. Dink wat ek regtig nodig het is die af dae wat ons soms oor ‘n naweek op die PUK gevat het.
Dan het ons geslaap tot ons honger was en geëet totdat ons vaak was en weer gaan slaap tot ons honger was…
Die Ingelse sê mos there is no rest for the wicked so ek sal my slaappatroon dringend moet herstel. Anders ruil ek my dag en nag om en ons het nie nagskof by die Vaalweekblad nie. Sela!
