Macaw vat haar kans en sweef soos ‘n arend
Shams, 'n jong avontuurlustige macaw, het haar eienaars en Vaalweekblad-lesers erg bekommerd gehad toe sy uit haar hok ontsnap het. Die storie het darem 'n gelukkige einde.
VANDERBIJLPARK – “Ek het daardie oggend, net soos al die ander oggende oor die afgelope 11 jaar, begin deur tussen al die voëlhokke deur te stap. Maar daar was fout. Twee van die macaws (pappegaaie) het nie soos gewoonlik af gevlieg om te kom hallo sê nie.”
Dit is hoe Eleanor Calitz haar werksoggend van Woensdag, 16 Junie by Avian Paradise in Vanderbijlpark, onthou.
Scarly (‘n drie jaar oue Scarlet macaw) en Shams (‘n drie jaar oue Shamrock macaw) was nêrens te vind nie.
“Ek loop om die kamp. Sien geen sigbare gate nie. In die hoekie van die 15m hoë dak vind ek die gatjie waar die twee ontsnap het. Wragtig ‘n 10 x 10 mm draad los getorring,” vertel Eleanor.

Die twee is saam hand groot gemaak en is saam vandat hulle twee maande oud is. “Hulle is nou altwee op die tiener stadium. Ons almal ken tieners, wil mos altyd iets nuut probeer,” skerts Eleanor.
Voëls het al tevore uit die hokke uitgekom, dit was nie vreemd nie. “Hulle sit vir twee dae in die boom, en gaan dan week terug kamp toe. Maar nie die keer nie,” vertel Eleanor.
Daar is toe begin om kennisgewings uit te stuur op sosiale media groepe, en selfs op Vaalweekblad se Facebookblad.
“Die middag bel die bure, Scarly is by hulle in die boom. Sy wil egter niks weet van afkom nie. Shams is nie met ‘n oog gesien nie,” vertel Eleanor.
‘n Dag later word Scarly so 3 km weg, net agter Oscars Supermarket gesien. Toe sy skoolkindes gewaar vlieg sy weg.
Nou begin Eleanor bekommerd raak, want nog nooit tevore vandat sy met die voëls werk, het ‘n voël so afgedwaal nie, en steeds is daar geen teken van Shams nie.
“Ek stres en pik al ‘n traan soos ek soek en aangaan,” sê Eleanor.

Laat die volgende middag kry Eleanor weer ‘n oproep. Scarly is so 8km van die huis bespeur. Die keer kry Eleanor dit reg om Scarly binne vyf minute af te lok en te vang. Scarly is natuurlik dood van die honger en dors na die twee “vry” dae.
Die tyd tik verby en na ses dae is daar steeds geen oproep oor Shams nie.
Die kommer is dat indien iemand haar nie vang en versorg nie, sy waarskynlik nie sal oorleef nie.
Twintig dae later op 7 Julie, kom die oproep; “Ons het ‘n voël gevang. As julle foto’s en ‘n ringnommer kan gee kan julle die voël kom haal”.
Die oproep kom van ‘n plaas buite Klerksdorp, sowat 180 km van Vanderbijlpark af!
Dit dui daarop dat Shams omtrent vier dae nadat hulle ontsnap het, op die plaas te lande gekom het. Die weldoener net bekend as André, het haar twee dae later afgelok en gevang.
André het ook op sosiale media groepe rondgevra na die eienaars, maar sonder sukses. ‘n Dame uit Potchefstroom het hom gekontak en vertel oor die macaw uit die Vaal wat soek is.
“André en sy gesin het so mooi na haar gekyk. Shams het baie vinnig hul harte gewen en hulle was maar hartseer om haar te laat gaan. Ons is so dankbaar dat hy nie moed opgegee het om ons op te spoor nie.
“Baie, baie dankie weer eens aan julle. Baie dankie aan elke leser en persoon wat die posts gedeel het en gehelp soek het. Sonder julle sou ons haar nooit gekry het nie,” sê Eleanor.
Terug by die huis is Shams eers in die “hospitaal” ingeboek, waar sy behandeling en toetse ondergaan het.
Sy is van 16 Julie weer terug in haar kamp, saam met Scarlet en Mcorky.
* Die macaws se vlerke word nie gesny nie, want hulle bly in kampe van 20 m, en 15 m hoog is, dus kan hulle daarbinne vlieg. Om hul vlerke te sny sou ‘n onreg wees.

