Wian (15) gekies om in Italië te gaan speel
VEREENIGING - Dit is nie aldag dat mens die voorreg het om gekies te word om oorsee te toer nie, dit sê mos darem iets oor jou talent! Maar die talentvolle jongman het nou die Vaal se ondersteuning nodig om dit 'n realtiteit te maak.
Die 15-jarige Wian Paulsen van Vereeniging Gimnasium is na afloop van die jaarlikse Rhinoweek, by die o18 Rhino-hokkiespan ingesluit om na Italië te toer.
Wian het tydens die Rhinoweek vir die o15 en o18 Tigers diens gedoen op die astro, en sy spel en passie is raakgesien.
Hy is die enigste speler van sy skool wat vir die toer gekies is. Hy is ook ‘n uitblinker in rugby en krieket.

“Ons is so trots op Wian, en wil so graag hê hy moet die geleentheid kry om oorsee te gaan deelneem, maar ons as ouers kan ongelukkig nie die koste dek nie,” sê sy ma Karika.
Kostes beloop R53 500 en sluit nie Wian se paspoort of sakgeld in nie.
“Ons sal dit opreg waardeer indien enigeen ons kan bystaan om Wian die geleentheid te help bied. Gelde hoef nie direk aan ons betaal te word nie. Besighede en mense kan my kontak dan kan ek hulle ook voorsien met Hokkie Regional se bankbesonderhede.” sê Karika.
Daar is ook ‘n Back-a-Buddy-veldtog begin.
Indien iemand direk met Karika wil kontak maak kan sy by 076 9560 102 gekontak word.
