Bietjie omgee maak baie harte bly
Die besoek het weer eens beklemtoom dat 'n bietjie omgee 'n groot impak op iemand anders se lewe kan hê.
MIDVAAL – Die inwoners van Els Medsorg was onlangs heerlik bederf toe die MooiVaal-mediaspan daar gaan kuier het vir Mandeladag.
Sommer met die intrapslag is ons span met breë glimlagte deur die inwoners begroet. Sommige van die sowat 40 inwoners wat daar versorg word, kry min tot geen besoek van familielede nie.

Die heerlike cupcakes en ander lekkernye wat uitgedeel is, is sommer dadelik geëet terwyl daar met die inwoners gesels is.
Sommer net ‘n vriendelike woordewisseling met van die inwoners het mens gou laat besef dat vriendelikheid en so bietjie persoonlike aandag altyd welkom is.
Mandeladag word jaarliks op die ikoniese Nelson Mandela se verjaarsdag, 18 Julie gevier.
Hierdie jaar se Mandeladag-tema was: “Dit bly in óns hande om armoede en ongelykheid te beveg.”
Verskeie indivue en organisasies maak jaarliks van die dag gebruik tyd af te staan en ‘n positiewe bydrae tot die samelewing te maak.

MEER OOR ELS MEDSORG
Els Medsorg bied ‘n bekwame en deernisvolle diens vir die versoring van verswaktes en Alzheimer-pasiënte, terminale pasiënte, hoësorg, en pasiënte wat herstel na byvoorbeeld ‘n siekte, ‘n operasie of ongeluk.
Daar word na pasiënte van alle ouderdom omgesien. Ook ouer garde wat nog selfversorgend is kan daar woon. Els Medsorg in Strydomstraat 62, Buyscelia, Midvaal, en bestaan al 28 jaar.
Kontak Els Medsorg by (016) 424 2200 om meer oor hul dienste uit te vind, of ‘n afspraak te reël om self te gaan inloer.







