Local newsNews

Van enkelma tot besigheidsvrou

Sy was jonk met twee maandoue babas en 'n dogter van agt. Skielik was Shene Jacobs 'n enkelma, maar sy het opgestaan, voortgegaan en sukses behaal.

VEREENIGING – Shene Jacobs is die trotse ma van ‘n 14-jarige en ‘n agt-jarige tweeling. Al drie meisies. Sy is onlangs weer getroud en het skoonheidsalonne in Vereeniging en Boksburg.

Haar oë blink. Sy is gelukkig. Dit was nie altyd so nie. Die tweeling was net ‘n maand oud, toe bevind sy haar skielik as enkelma in ‘n harde wêreld.

Shene en haar man Dwayne saam met haar drie dogters: Charmone en die tweeling Xanika en Alexa. Foto verskaf/Shene Jacobs

Shene is ‘n boorling van die Vaaldriehoek en het haar laerskooljare by die Laerskool Vryheidsmonument deurgebring. Na haar ouers se egskeiding het sy haar hoërskool loopbaan in Boksburg voltooi.

Na skool het sy haar diploma by die voormalige SA Hair Care and Skin Academy in Drie Riviere gedoen.

“My oupa het gereken dis nie iets waaruit jy ‘n bestaan kan maak nie en vir my betaal om ‘n verdere kursus in rekeningkunde te volg.”

In daardie eerste jare na haar egskeiding het sy op albei kwalifikasies teruggeval. Op ‘n stadium het sy vir ‘n onderneming in Boksburg gewerk en ook oor naweke en na-ure kliënte se hare en naels gedoen.

Mettertyd het haar liefde vir skoonheidskunde oorgeneem en het sy ‘n goeie kliëntebasis in Boksburg opgebou. Maar haar hart het altyd terug verlang Vaaldriehoek toe en sy het teruggetrek na wat eens haar ouerhuis was.

Die huis is vir jare uitverhuur en was in ‘n slegte toestand met ‘n astronomiese agterstallige waterrekening. Shene het eers in die huis ‘n gedeelte as salon ingerig en die woonstel agter verhuur.

“Daar was net nie meer genoeg plek nie. Toe my huurder kennis gee, het ek die woonstel in ‘n salon omskep waar ek alles doen van grimering tot by hare en naels.

Sy gaan maak ook nog gereeld ‘n draai in Boksburg om haar jarelange kliënte te sien.

“Ek het vir lank na mense se huise toe gegaan om daar hul hare of grimering te doen, maar nou doen ek alles van die salon af. Ek geniet dit ook om troues en matriekafskeide te doen,” vertel sy.

Met harde werk het sy die agterstallige munisipale rekening van oor die R100 000 afbetaal. “Die huis is nou amptelik op my naam,” vertel sy trots.

Al doen sy nie meer huisbesoeke nie, maak sy tog die uitsondering vir ‘n kliënt wat dalk weens siekte nie na haar toe kan kom nie.

Shene was die afgelope agt jaar so besig om planne te beraam en hard te werk, dat sy nou nie meer stil kan sit nie. Sy het ook groot planne.

In Oktober bied sy ‘n spesiale grimeringopleiding sessie aan in samewerking met Louise Volschenk van Mummy’s Club (Showmax). “Dis die eerste keer wat ek so iets aanpak. Eintlik gaan ek net sorg dat alles in plek en reg is, Louise gaan die aanbieder wees.”

Of haar kinders eendag in haar voetspore gaan volg en die besigheid oorneem is nie seker nie.

“Hulle moet doen wat hulle wil doen. Ek het net geweet ek moes dit maak werk ter wille van my dogters. Daar was tye wat ek hul saam moes vat as ek kliënte by hul huis gaan sien het. Gelukkig het my kliënte verstaan.”

Shene het uit die as opgestaan, haar kinders onder haar vlerke geneem en met ywer en harde werk vir hul ‘n beter toekoms gebou. Vir haar is dit al wat saak maak.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button