VANDERBIJLPARK – Anmar Pretorius straal op die oog af van lewenslus. Sy gesels, lag lekker en luister regtig as mense praat.
Sy glimlag maklik, maar haar oë weerspieël met tye die konstante pyn waarmee sy moet saamleef. Sy is met twee outo-immuunsiektes gediagnoseer.
Anmar was 12 toe dit begin het. Die kroniese moegheid, pyn en wat sy beskryf as brain fog waar sy net nie helder kan dink of konsentreer nie. Op daardie stadium het die dokters dit aan bloedarmoede toegeskryf.
Later het sy gehoor dis Kroniese Vermoeidheidsindroom. “Ek noem dit steeds yuppie-griep, alhoewel dit ‘n term is wat nie meer gebruik word nie,” lag sy.
Die uitwerking wat die siekte op haar het, is egter niks om oor te lag nie. Medici het eers gereken dis sielkundig van aard, maar nuwe navorsing het bewys dat Kroniese Vermoeidheidsindroom deur een van drie virusse veroorsaak kan word, onder andere waterpokkies.
Teen 2007 het sy gevoel van die simptome vererger en daar het stadig maar seker nuwes bygekom.
“Ek het konstante pyn in my gewrigte, die moegheid is baie erger, my balans is nie wat dit moet wees nie. My spierkrag gaan agteruit. As ek regtig moeg raak, begin ek woorde om te ruil,” vertel sy.
Dit het vyf jaar geneem vir die dokters om nog ‘n diagnose te gee – Fibromialgie. ‘n Siekte tussen twee vure, want dit toon baie outo-immuun simptome, maar ook nie.
Waar x-strale byvoorbeeld die inflammasie in gewrigte van ‘n persoon met rumatoïede artritis sal wys, kan fibromialgie nie op ‘n x-straal gesien word nie.
Al waaroor die mediese wêreld tans saamstem is dat dit ‘n komplekse, multisisteem kondisie is. Anmar sê haar simptome word behandel, maar die oorsake is onbekend.
Sy drink verskeie kroniese medikasie wat onder andere minerale insluit, want daar is vasgestel dat haar liggaam nie magnesium self kan opneem nie.
“‘n Mens raak gewoond daaraan om ‘n sekere vlak van pyn elke dag te beleef. Dan word die simptome erger, en ek weet een van die twee siektes gaan toeslaan en my lamlê.”
Wanneer dit gebeur kan sy nie anders as om tot stilstand te kom nie. “Ek is gelukkig geseënd met ‘n wonderlike man. Hy verstaan.” Ander mense is nie so simpatiek nie.
Die meeste outo-immuunsiektes is onsigbaar. “Vir ander lyk ek gesond, intussen kan ek nie my voete behoorlik optel so seer is dit nie. ‘n Mens leer maar om alles agter ‘n glimlag weg te steek.
“Om ‘n masker van welstand te dra as mens dit so kan stel. My man sê altyd ek is die great pretender.”
Anmar het ‘n boek uitgegee, Blessings of a chronic disease, en werk tans aan haar meestersgraad waar sy die invloed van Veelvuldige sklerose (MS), Lupus en Fibromialgie ondersoek op elke vlak van die lyers se menswees.
“Ek het geleer om nie my siekte my stokperdjie te maak nie. Dis soos ‘n dans, waar jy so soms lei en die siekte wil oorvat, maar mens kan dit nie die oorhand gee nie.
“Ek het geleer om dankbaar te wees vir dit wat ek nog kan doen, vir die verskil wat ek kan maak. Leer om die siekte as seën te sien en nie as ‘n kruis nie, Dis hoe ek seker maak dat ek elke dag kan opstaan en werk toe gaan.”
