SA se kanarie-koning is ‘n Valie
Glo dit of nie daar’s 13 verskillende kanaries en Frank weet alles van hulle.
VANDERBIJLPARK – Die Vaaldriehoek spog na 42 jaar weer met ‘n Kanarie-kampioen! Sy naam is Frank van Heerden (66), voorsitter van die Driehoek Kanarieklub. Sy liefde vir sy geveerde vriende kom al van kindsbeen af en is deur sy pa gekoester en ontwikkel.
Sy lewensdroom het vroeër vandeesmaand in die Rosestad vlerke gekry toe een van sy spog skoukanaries tydens die SANCBA as die nasionale kampioen gekroon is.
Wanneer mens by die houttrappies opstap na sy telery, word mens se ore sagkuns met die vrolike getjirp van ‘n kanariekoor oorweldig. Dis hier waar sy liefde lê.
Hier waar hy baie tyd en liefde uitdeel. “Dit kom maar van my pa se tyd. Vere en voëls is in ons bloed,” vertel Frank vrolik. Die verskil tussen ‘n stokperdjie en ‘n passie is daardie spesiale sprankel in die oog en die geesdrif om kennis te deel.
Daarvan het Frank emmers van vol. “Ek kon al baie keer ‘n beoordelaar gewees het, maar dan kan ek nie my voëls inskryf nie. Die lekker lê in die skou,” bieg hy.
Sedert die eerste nasionale kanarieskou in 1935 plaasgevind het, het duisende van Suid-Afrika se top kanaries teen mekaar meegeding. Vanjaar was daar sowat 1 506 inskrywings en die mededinging was straf, maar uiteindelik was daar net een wenner.
‘n Vaaldriehoeker. Die proses om die koring van die kaf te skei neem ‘n werksdag met elke detail van die voëls wat onder die vergrootglas kom. Frank spog met ‘n broeisisteem soos min, maar probeer om alles so natuurlik as moontlik te doen.
“Kanaries teël is ‘n familie ding. Dit hou mens by die huis,” glimlag hy. Glo dit of nie daar’s 13 verskillende kanaries en Frank weet alles van almal van hulle. Hoewel hy tussen geveerde vriende in die sewende hemel is en baie trots op sy prestasie is, is hy bekommerd oor die voortbestaan van kanarieklubs.
“Ons wil graag die jonger generasie betrokke kry,” vertel hy. Die Driehoek Kanarieklub bestaan al 40 jaar en vergader gereeld. Diegene wat belangstel om by die klub aan te sluit, kan Frank by 083 207 0040 of Poul Everest by 084 7647 626 of Charles Strauss by 082 799 5747 kontak.
