Local newsNewsNews

8 uit 10 Parysenaars ontevrede met munisipale dienslewering

Dié resultate dui volgens die burgerregteorganisasie AfriForum op ’n ernstige vertrouensbreuk tussen inwoners en die munisipaliteit.

PARYS – ’n Studie wat AfriForum in Mei en Junie vanjaar onder meer as 800 inwoners van die dorp gedoen het, toon dat agt uit elke tien ontevrede is met die dienste wat die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit lewer.

Dié bevindinge volg kort op die hakke van die opspraakwekkende uitspraak wat op 20 Junie vanjaar in die Hooggeregshof in Bloemfontein gelewer is.

Die hof het beveel dat die munisipale raad ontbind moet word en die provinsiale regering moet ingryp omdat die munisipaliteit nie meer aan sy grondwetlike, wetlike én administratiewe verpligtinge teenoor sy inwoners voldoen nie.

Ten spyte van dié beslissing én inwoners se duidelike ontevredenheid met die gehalte van dienste wat in die munisipaliteit gelewer word, het die munisipaliteit nou aansoek om verlof tot appèl teen die uitspraak gedoen.

Dié aansoek sal op 12 Augustus aangehoor word.

Dienslewering in die munisipaliteit het volgens AfriForum se meningspeiling nou ’n laagtepunt bereik.

’n Totaal van 80,4% van respondente is ontevrede tot baie ontevrede met die munisipaliteit se dienslewering, terwyl 6,4% van respondente tevrede tot baie tevrede is (slegs 1% van respondente is baie tevrede). Sowat 13,2% van respondente is neutraal.

Volgens die opname ervaar 33,8% van respondente daagliks wateronderbrekings, terwyl 49,5% verskeie kere per week gebuk gaan onder dié probleem.

Statistiek van die organisasie Save Ngwathe bevestig hierdie krisis. Luidens hul data is daar in die eerste ses maande van die jaar reeds meer as 33 300 waterverwante klagtes by die munisipaliteit aangemeld. Dit kom neer op meer as 184 klagtes per dag.

AfriForum se Parys-tak doen ’n beroep op die gemeenskap om betrokke te raak en saam te werk aan oplossings. Die tak sal die resultate van die opname gebruik om verdere aksie te beplan en druk op die munisipaliteit te verhoog.

Kontak Schalk Burger (082 653 4281) vir meer inligting of om by die tak aan te sluit.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button