NewsNews

Ek sê maar net… Dit het begin as Dore op die PUK

RUBRIEK - Vriendskap wat oor dekades en duisende myle strek en nou kom karring kanker tussenin.

RUBRIEK – Einde Januarie 1990. Eerstejaarskamp. Dis waar dit alles begin het. Ek het vir haar gekyk en sy vir my en toe lag ons.

Het ons êrens ‘n sielsgenoot in mekaar se oë gesien? Dalk ‘n familietrek? So ver ons weet is ons nie familie nie, maar my ouma was ‘n Venter en sy het Venter grootgeword…

Hoe dit ook al sy… op daardie kamp het ons vriende geword. Ek en Antoinette of soos ek altyd gesê het, Tone vir short. Meer uiteenlopend kan ons seker nie wees nie.

Maar deur ons jare op die PUK het ons baie gedeel, gelag, op dieselfde rade gedien. Natuurlik het ons vasgesit, maar ons het ook baie gelag.

Ek onthou die keer wat ons ‘n vrugtekoek in haar ma se kombuis gebak het, of liewer probeer bak het, dit was nie ‘n sukses nie.

Die keer wat sy haar jonger broer langs die pad tussen Potchefstroom en Vanderbijl afgelaai het omdat hy van agter af aanmerkings op haar bestuurstyl gemaak het. Dit was so hittete of ek kon haar nie kry om terug te draai nie.

Na universiteit het die vriendskap net aangegaan. Veral toe ons albei in Pretoria gebly het. Die lewe het teen daai tyd ook maar sy byte begin byt, so ons het nie meer heeltemal so baie gelag nie.

Met die verloop van tyd het ons meer soos susters begin voel. Daar was die mislike tyd 20 jaar gelede toe sy met kolonkanker gediagnoseer is. Ek was daar met die operasie. Elke dag na werk.

Haar pa het naderhand gespot en gesê hy kan sy horlosie stel op wanneer ek sal inkom. Die onkoloog het gesê sy sal nie haar 40ste verjaarsdag sien nie. Sy het hom verkeerd bewys en behoorlik ‘n naweekparty gehou toe sy die groot vier slaan.

Net drie weke na my. Vir lank het ons in die weke tussen ons verjaarsdae ‘n plan gemaak om te gaan sushi eet en wyn drink. Dit was ons tradisie.

Vele kere het sy oorsee gaan werk, vele kere het ek plan gemaak om op die lughawe te wees as sy land. Na my man se dood was sy die een wat ‘n vakansie Kaap toe vir ons beplan het. Wat daar was vir my.

Ek is nou 10 jaar terug in Vanderbijlpark. Met Covid en alles saam het ek nie veel van haar gesien die afgelope dekade nie. Kon nie eens haar troue bywoon nie.

Sy en haar man woon nou in Nederland. Maar op ons verjaarsdae praat ons nog mekaar se ore warm.

Tot 7 Mei. Sy het ‘n boodskap per WhatsApp gestuur. “Hi jongie. So ek het slegte nuus. Pankreaskanker, ek het maar paar maande oor.”

Daar is ‘n groep op WhatsApp. Ons kry so eenmaal per week ‘n boodskap. Ek vra nie vrae nie. Ek weet net ek vrees elke keer om die boodskap te lees.

Amper 35½ jaar Tone. Goeie tye. Ek lig my hoed, jy was, is en sal altyd enig in jou soort bly.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button