VANDERBIJLPARK – Juan van Zyl is ‘n lang kêrel vir graad sewe. Hy staan trots in sy leierskapsbaadjie van die Laerskool Totius. Sy groot passie is rugby.
Springbok Pieter-Steph du Toit is sy held en ja, hy speel ook flank. Sy drome om eendag self Springbok te word is nie buite bereik nie.
Juan het die afgelope vakansie aan die Rhino-week en die Valketoernooi deelgeneem. By die Rhino-week is hy in die eerste wedstryd as speler van die wedstryd aangewys en is gekies om as deel van die Rhino A-span van 1 – 10 Desember in Italië te gaan toer.
By die Valke-toernooi is hy tot voorspeler van die toernooi gekroon en is hy ook deel van die span wat in Oktober in Namibië gaan toer.
Hy is ‘n stoere Lions ondersteuner en hoop om eendag vir die span te kan speel, en natuurlik die Springbokke.
Maar sou hy dit dalk nie maak as professionele rugbyspeler nie, wil hy graag kuns gaan swot. “Ek hou baie van teken,” vertel hy, “en wiskunde.”
Dat hy nie sy akademie agterweë laat nie, kan gesien word aan die akademiese balkies op sy skoolbaadjie. Volgende jaar gaan hy Transvalia toe.
Hy het sportbeurse by ander skole ook gekry, maar sê dis bietjie te ver van die huis af. Naas rugby, speel hy ook krieket en geniet veral veldwerk.
Boonop is hy ‘n atleet wat goed vaar in die 800m, die 200m en gewigstoot. “Ek het in graad R begin rugby speel, maar toe is dit die Covid-tyd en ek het nogal gewig opgetel.
“Teen die tyd wat ons terug by die skool was, moes ek op haker sak en al wat ek in atletiek kon doen was gewigstoot. Maar teen graad vier kon ek weer flank speel en drieë druk,” vertel hy trots.
