Sport is sy kos, akademie is goed, maar spaar hom kuns
Familie is vir hom die belangrikste en dan is daar natuurlik sy sport, veral rugby. Ontmoet een van die Laerskool D.F Malherbe se blink sterre.
VANDERBIJLPARK – Daniël van den Berg staan sy plek vol by die Laerskool D.F. Malherbe waar hy tans in graad sewe is.
As een van die leiers, blink hy nie net uit in akademie, hokkie en atletiek nie, hy was die enigste van sy skool wat gekies was vir die Gauteng o13 Cravenweekspan.
“Ons het proewe gespeel in Kemptonpark op 10 Mei en daarna het hulle die Cravenweekspanne aangekondig. Ek was eers gekies vir die B-span, maar toe later vir die A-span.
“Dit was lekker, maar ons span was nie baie goed nie. Ons het 15de van 16 spanne geëindig,” sug hy.
Met die rugby agter die rug vir die jaar, is sy fokus nou eers weer op die hokkieseisoen wat so pas afgeskop het vir laerskole.
Hy het rugby in graad een begin speel en hokkie in graad R. Maar as hy moet kies, verkies hy rugby.
“Wil tannie weet van die kultuur ook? Ek is in die spreekkoor. Ek en die koor het nie uitgewerk nie,” lag hy. Sy gunsteling vak is wiskunde.
“Ek kan net nie teken nie en tale is boring. Ek weet die juffrouens probeer dit lekker maak, maar dit werk nie,” sug hy.
Volgende jaar gaan hy sy skoolloopbaan voortsit by die Hoërskool Trio in Kroonstad. “Dis ‘n familie-ding. My pa was daar en my broers ook,” beduie hy.
Na skool sal hy graag ‘n professionele rugbyspeler wil word, maar as dit nie uitwerk nie, het hy ‘n plan B.
“Ek sal dan ingenieurswese of aktuaris gaan swot in Potchefstroom.” Natuurlik sal hy dan in Patria koshuis bly, dis dan waar sy broers was. Soos hyself sê: “Familie is die belangrikste.”
