Min kon gedoen word om Sonlandpark-woning te red
Alles wat verkeerd kon gaan, het. En dit was alles grootliks te danke aan die verval van dienslewering in Emfuleni.
VEREENIGING – Swak waterdrukking in Sonlandpark het verlede week daartoe bygedra dat ‘n huis in Du Bruyn Nelstraat tot op die grond afgebrand het.
“Ons bly nou al 10 jaar in Sonlandpark en nog nooit was daar sulke slegte dienslewering gewees nie. Toe die huis begin brand het almal ingespring om te probeer help en die brandweer is onmiddelik ontbied,” vertel ‘n plaaslike inwoner wat uit vrees eerder anoniem wil bly.
“Dit is nou al die derde huis in drie jaar,” kla die inwoner.
Die brandweer moes al die pad van Vanderbijlpark kom waarna bevind is dat die brandweerwa nie genoegsame water gehad het om die brand te blus nie.

Boonop het die wind die vuur voortdurend aangeblaas. Plaaslike inwones het ingespring en hul bes probeer om die vlamme met tuinslange te probeer blus.
Die waterdruk in die gebied is egter so swak (moontlik weens die groot aantal waterlekke in die area) dat die poging ook ‘n mislukking was.
Intussen het die brandweerwa oral in Sonlandpark rondgery op soek na water. Die brandweerkrane was egter ook droog weens die swak waterdrukking.
Dit het tot gevolg gehad dat die brandweerwa eers na sowat twee ure na die toneel kon terugkeer met water. In die tyd was die huis en alles daarin totaal en al verwoes.
Die tragiese gebeure volg ‘n dag nadat die inwoners van die area die hoofingang in Sonlandpark vanaf Houtkop/Waterdal tot in Skippie Bothastraat afgesper het met brandende bande en betoog het teen swak dienslewering in die gebied.

