Vaalpark se paaie op die herstelpad
Daar is 'n nuwe projek in Vaalpark geloods in 'n poging om die paaie beter en veiliger te maak.
VAALPARK – Tot onlangs het sekere paaie bykans onrybaar geword. Paaie rondom die skole, kerke en besighede het begin lyk na slaggat-vallei. Enige klagtes by die munisipaliteit het op dowe ore geval.
Dis toe dat Public Eye Vaal NPC en Rejuvenation Community Trust besluit het om hande te vat en ‘n projek, Save Our Vaalpark Roads, te loods.
“Om te kla help nie. Ons moet self iets doen en hierdie projek gee ons die kans om te herbou, te verbeter en te inspireer – een straat op ‘n slag,” het die projekleiers gesê in ‘n dokument aan Vaalpark se inwoners.
Die projek se doelwitte sluit onder andere in die verf van kruisings en sypaadjies, die skoonmaak van die strate en die herstel van slaggate.
Die eerste fase sal konsentreer op van die kritiese roetes rondom skole, kerke en besighede.
Om van hierdie projek ‘n sukses te maak, vra die organiseerders vir vrywilligers om te kom help met die skoonmaak en verfwerk en vir inwoners om inligting rakende die projek op sosiale media te versprei.
Enige donasies is baie welkom. Aangesien Rejuvenation Community Trust Section 18A status het, sal kwalifiserende donateurs die nodige belasting-aftrekbare sertifikate ontvang.
Om betrokke te raak en op hoogte van die projek te bly, sluit aan by die amptelike Save Our Vaalpark Roads WhatsApp groep.
Die projek benodig fondse en behalwe donasies word daar ook op 23 Augustus ‘n rolbaldag aangebied om fondse in te samel. Daar word ongeveer R250 000 benodig om die eerste fase van die projek te voltooi.
Die groot dag beloof om baie pret te wees en vind plaas vanaf 08:30 by die Sasolburg Rolbalklub.
Spanne van vier elk het nog kans tot 18 Augustus om teen R100 per speler vir die pret toernooi in te skryf. Skakel vir Johan Prinsloo by 082 856 3853 vir meer inligting.
