RUBRIEK – Ek is aan diens die naweek en so hoor ek daar is 10 boksgevegte by Knock Out Pub & Grill.
Die plek ken ek, die bokskryt heelagter het ek al baie gesien, so van ver af. Paraat skakel ek in die week. Ek soek plek naby die kryt, want ek moet foto’s neem.
So gevra, so gedaan. Ons daag Saterdagaand vlak voor 18:00 op en word beduie na ons sitplekke reg langs die kryt. Staan ek, dan kan ek my kamera met gemak deur die toue stoot.
Johan kry sy sit en waarsku so ewe… “Pas op dat die bloed en spoeg nie op jou spat nie.” Terg hy of is hy ernstig, wonder ek nog toe klim daar ‘n jongman deur die toue.
Net soos ek al op televisie gesien het, kondig hy met ‘n weerklinkende mikrofoon in die hand die eerste bokser aan.
Die maak sy verskynimg onder dramatiese musiek. Die tweede bokser word aangekondig. Ek kan nie uitmaak wat is hul name nie.
Nou moet jul weet, ek het grootgeword met Kallie Knoetze en Gerrie Coetsee. Ons het boksgevegte oor die radio geluister. In my volwasse lewe het ek nog net so hier en daar ‘n professionele boksgeveg op TV waargeneem.
Foto’s van boksers in aksie, die het ek nog nie geneem nie. Ek staan my staan en hou maar my vinger op die knoppie.
Skrik my buite weste toe ‘n harde klap geluid agter my opklink. Sekondes daarna word die gong geslaan. Einde van rondte een.
Ek besef die harde klap geluid is om aan te kondig daar is 10 sekondes oor.
Die eerste geveg is verby voor die laaste rondte.
Ek hoor duidelik hoe die een sê, hy kan nie meer nie. Groot is my verbasing toe albei se arms in die lug getel word deur die skeidsregter.
Hier na die derde geveg wat gelykop aangekondig is, draai ek na die skeidsregter se vrou neffens my. “Ek verstaan nie. Niemand wen nie.”
“Dis White Collar Fights, dis teen die reëls om ‘n wenner te hê,” vertel sy my.
Intussen kan ek steeds nie hoor wie is wie in die kryt nie.
Toe die jongman weer ‘n slag sy sit so tussen Johan en die gongman kry, seg ek, “nee man. Ek kan nie hoor wie is die boksers as dit so weergalm nie.”
Hy belowe my hy gee die papier met name vir ons na die 10de geveg.
Die afrigters in die twee hoeke verskaf vir my die grootste vermaak met hul aanmerkings en hoe opgewonde hul raak.
Hoe later, hoe kwater en die mense om die kryt begin saam te gesels. Maar daar is geen dramatiese uitklophoue nie. Geen bloed nie. Geen blou oë nie. Ek is half teleurgesteld, dalk kon ek ‘n voorbladfoto gekry het.
Maandagoggend laai ek foto’s af. Al wat ek gekry het, was 225 foto’s waarvan omtrent net 10 in fokus was. Van hulle was net boude en bene wanneer die manne reg voor my baklei het.
Dit wys jou net. Die ou gesegde is waar. Skoenmaker hou jou by jou lees. Ek is nie ‘n sportfotograaf nie. Sal maar by stories skryf hou. Sela!
