NewsNews

Moedergemeente se groot makietie

NG Moedergemeente in Vanderbijlpark se basaar die jaar het in 'n fees ontaard.

VANDERBIJLPARK- Dit was ‘n behoorlike fees. Saterdag het die NG Moedergemeente uit hul nate gebars. Mense het van vroeg af al in rye gestaan vir kaartjies, met alle parkeerplekke vol.

Die reuk van braaivleis en pannekoek het in de lug gehang. Daar was ‘n feestelike atmosfeer en die plek was getooi in ballonne en vlaggies.

Gerhard Jordaan braai die tjops tot perfeksie. Foto: Gerda Bruinette

Dit was goed om te sien hoe mense van alle ouderdomme agter die tafels diens gedoen het. Van die ouergarde het pannekoeke suiker bestrooi en gerol, terwyl ‘n jonger generasie die pannekoeke gebak het.

Die lekkergoedtafel het gekreun met alles van lekkergoedgevulde narre tot by lugballonne. Om die braaivleisvure was ‘n hele span manne doenig.

Sylvia Dreyer koop van die poedings wat sy self in die nag gemaak het. Foto: Gerda Bruinette

Binne in die kerksaal het dit nog vroliker gegaan. Die poedingtafel is goed ondersteun en by die vetkoek en kerrie en rys tafels kon die dames skaars voorbly.

Dan is daar ook lekker gekuier op die verhoog reg agter die koffietafel waar ‘n vriendelike span gratis koffie en tee gemaak het en gaste boonop ‘n gratis tuisgebakte kolwyntjie ontvang het.

Die koektafel staan die hele lengte van die saal vol met allerlei lekkernye en tuisgebak. Foto: Gerda Bruinette

Oral het bekendes mekaar raakgeloop en het dit tot groot onthou-jy-nog en hoe-gaan-dit-met-jou gesprekke gelei.

Hoed af vir die organiseerders en almal wat hard gewerk het om alles te reël, die dag diens te doen en te help met die opruiming na die tyd.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button