VANDERBIJLPARK – Vaalweekblad stap al vir meer as drie en ‘n half jaar die pad saam met Nolan Marais. Hy is destyds gebore met ‘n gesplete bolip wat in sy babadae reggemaak is.
Later is daar gevind dat hy erge hidrokefalie het, ‘n kondisie waar vog in sy brein versamel. In September 2023 het hy ‘n operasie ondergaan waar ‘n nuwe paadjie en opening vir die vog in sy brein geskep is.
Die operasie was ‘n sukses en Nolan het daarna beter geloop, f ietsgery en balans gehad. Ongelukkig is Nolan nog voor sy geboorte gediagnoseer met ‘n sist op die regterkant van sy serebellum.
Daar is gehoop dat die eerste breinoperasie sou help om die sist te laat krimp. Ongelukkig is daar 15 Maart tydens ‘n MRI-skandering gesien dat die sist steeds daar is.
Daar is wel bevind dat dit chirurgies verwyder sal kan word. Die operasie sal eers gedoen word as Nolan vyf jaar oud is en die verwagting is dat dit ‘n groot verskil sal maak in die ontwikkeling van sy brein.

Hy het intussen met perdryterapie begin. Sy ma, Jessica, sê Nolan het sy eerste sessie gehad net na sy breinoperasie, maar het op 12 Julie amptelik begin.
“Hy gaan nou elke Saterdag om 10:00. Die perde is spesiaal opgelei en ons kon dadelik die verskil in Nolan sien.”
Die dapper seuntjie kan nou al met albei voetjies spring en hardloop vinniger, alhoewel sy ma sê hy lyk meer soos ‘n perdjie wat galop as hy hardloop.

Waar hy in die verlede homself altyd moes optrek aan iets om te kan loop, staan hy nou enige plek op en gaan net aan.
“Dis ongelooflik hoe regop hy sit op die perd en hoeveel meer selfvertroue hy nou het,” vertel sy. “Hy praat ook nou in voller sinne en verstaan baie meer.
Hy sê hy wil eendag ‘n wetenskaplike word en sy oupa reken hy gaan nog die kuur vir kanker ontdek,” sê Jessica trots.
Hy moet egter dringend met spraakterapie begin. Dit is baie duur. Alhoewel, die gesin ‘n mediese fonds het, sluit dit nie Nolan se medikasie en terapie in nie. Sy Back-a-Buddy rekening is al met geboorte geskep en enige donasies is welkom.
