Tweede operasie op matrikulant ‘n sukses
Swelling op brein neem stadig maar seker af

VANDERBIJLPARK – Chris Zurcher (17), ʼn matrikulant aan die HS Driehoek, is steeds in ‘n geïnduseerde koma nadat hy verlede Vrydag op die R57 naby Vaal Mall ernstig in ‘n motorongeluk beseer is.
Chris het gister sy tweede operasie ondergaan om skade aan se lewer en ingewande te herstel. Sy milt is verlede week tydens ‘n noodoperasie verwyder. Volgens sy sussie Natasha Mouton, gaan dit onder omstandighede baie goed met hom. Hoewel sy gesig rekonstruktiewe chirurgie gaan benodig en sy arm ook geopereer moet word, is daar goeie nuus dat die senuwees in sy oor wat met sy gesig verbind, nie ernstig beskadig is nie.
“Hy doen ongelooflik goed. Sy interne wonde lyk goed. Sy wond is nou heeltemal toe. As die swelling nog afkom gaan hulle hom wakker maak, andersins sal hy nog vir ‘n dag of twee onder sedasie gehou word. Die oor lyk goed en het nie gebars nie, daar was net lelike sny. Daar mag nog ‘n moontlike operasie later van tyd kom,” het sy aan Vaalweekblad gesê.
