NewsNews

’n Ou moet mos alles probeer

Willie Lombaard is 'n joviale man wie se oë ondeund skitter wanneer hy 'n storie vertel, maar staan hy in die kryt as skeidsregter mis sy skerp oë niks.

VANDERBIJLPARK – Willie Lombaard het in sy amper 67 jaar al bykans alles probeer en van vele dinge ‘n sukses gemaak. Veral as dit kom by sport.

Die sportgogga het hom op vyf jaar al gebyt toe hy begin boks het. Dit was vir hom die natuurlike ding om te doen, sy pa was dan bokskampioen.

Willie en sy vrou Sonika Lombaard voor van Willie se bekers en trofees wat hy in verskeie sportsoorte verower het. Foto: Gerda Bruinette

Willie is ‘n Vrystater van geboorte en het sy skoolloopbaan by HTS Bloemfontein afgesluit in 1976. Terug plaas toe wou hy nie en het hom na die destydse YSKOR in Vanderbijlpark gewend waar hy sy vakleerlingskap as passer en draaier begin en klaargemaak het.

Tussenin is hy opgeroep vir weermagdiens. “Ek was besig met my een jaar diens, toe verander hulle dit na twee jaar verpligte diens toe,” sug hy. Nie dat dit hom regtig gepla het nie.

Die weermag het vele sportsoorte gehad en Willie het sy hand aan baie daarvan gewaag. In 1979 het hy Suid-Transvaal, Vrystaat en Weermag kleure vir boks gekry.

“Toe is daar ‘n gestryery oor vir wie ek gaan boks by die nasionale kampioenskappe. Die weermag het gewen,” lag hy.

In sy huis is daar meer as een spesiale kamer waar foto’s, sertifikate, trofees en medaljes uitgestal word.

“Dis ook nie meer almal nie. My vrou, Sonika het my gym oorgevat. Kyk net, hier het sy sommer van my goed in ‘n boks gedruk,” skud hy kop, terwyl ons om Sonika se werkstafel mik. Sy maak klere en het baie plek nodig.

Willie was nie net self ‘n bokskampioen nie, hy het in sy lewe baie boksers afgerig, mans en vroue. Dan is hy steeds gekwalifiseer om as skeidsregter in die kryt op te tree.

Buite die kryt is hy vol grappies en het hy baie stories om te vertel, maar as hy eers in die kryt is, kan jy sy vlymskerp konsentrasie aanvoel. Sy valkoë mis niks.

Vir hom is elke bokser se veiligheid van die grootste belang. Naas boks het hy baie medaljes, baadjies en die kentekens wat op baadjies vasgewerk kan word vir alles van marathons, visvang en veerpyltjies tot by biljart en lewensredding.

“Ek het selfs eenkeer die Comrades gehardloop,” beduie hy, “en die Argus fietswedren op ‘n geleende fiets voltooi in 2008. Dis nou wat gebeur as iemand vir my sê, ‘jy sal nie dit kan doen nie.’”

As deelnemer, afrigter en selfs spanbestuurder van verskeie nasionale en provinsiale spanne oor die jare, het Willie Suid-Afrika en Namibië deurkruis en ook lande soos Nigerië, Mauritius, Angola en Rusland besoek.

Alhoewel hy op ‘n kol amptelik afgetree het, was by die huis sit nie vir hom nie, en is hy weer voltyds in die tuig. Boonop geniet hy dit om alles van rissies tot by sampioene in te lê en dan doen hy en Sonika nog spyseniering ook.

“O ja, en ek is leierouderling by NG Gemeente Oospark, maar ek weet nie hoeveel mense jou gaan glo nie,” lag hy lekker.

Oor Willie Lombaard kan ‘n boek geskryf word. Dit sal baie hoofstukke bevat, want steeds is dit het einde niet vir hierdie man wat al soveel spore in Suid-Afrikaanse sport oor die dekades getrap het.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button