NewsNews

Wanneer redaksie besluit op ‘n spanbousessie

Dis nie aldag dat joernaliste en taalkenners hul kameras neersit en hul rekenaars afsit nie, maar as dit die dag wel gebeur, sorg dit vir baie pret.

VANDERBIJLPARK – MooiVaal Media se Vanderbijlpark redaksiespan praat al vir maande daarvan om iets saam te doen. Ons is 11 mense wat vier koerante verteenwoordig.

Elsje ‘Terminator’ Vermeulen maak gereed om te dien.

Dis nou almal ingesluit van die senior redakteur tot by die subredakteure en die aanlyn-joernalis. Tussen almal se spertye het dit vir lank net by praat gebly.

Dit was totdat Ettienne van Rensburg (Vaalweekblad sportredakteur en Ster South redakteur) besluit het, daar is klaar gepraat en tot aksie oorgegaan het.

Toe die res van ons oë uitvee is ons op pad na die Emerald Resort & Casino om te gaan padel speel.

Sifiso Jimta konsentreer hard om een van Elsje se hardslaan balle in die oog te hou.

Nee, ons het nie in die Aquadome se rustige warm water gaan “paddle” nie. Alhoewel, dit dalk ‘n beter uitwerking op ons onfikse spiere sou hê.

Ek en Lerato Serero (redakteur van Sedibeng Ster) stop so gelyk langs ons kollegas se motors. Ons wonder nog waar presies ons moet wees, toe skakel Zacharia Nale (Sedibeng Ster sportjoernalis).

Hy benodig ‘n saamrygeleentheid van die kantoor af. Lerato doen ‘n kort omswaai en ek rek my treë om by die ander te kom.

Vind hul voor die Aquadome se deur. “Ek weet nie waar is Christiaan nie. Hy het ‘n pin drop gestuur. Wonder of hy verdwaal het,” begroet senior redakteur Elsje Vermeulen my.

Die selfaangestelde baanbeamptes, Lerato en Zach lyk bietjie onseker, maar Elsje is oortuig die bal was in.

Intussen het Miranda Human van Emerald opgedaag en sy begelei ons deur die Aquadome na die padelbane buite. Daar vind ons Christiaan (redakteur van Ster North) besig om reeds ‘n paar balle te slaan.

Vir die wat nie weet nie, padel is ‘n raketsport wat tipies in dubbelspel gespeel word op ‘n geslote baan effens kleiner as ‘n tennisbaan. Die sport is ‘n kombinasie van tennis en muurbal.

Die baan het glasmure voor en agter en iets soos staalogiesdraad aan weerskante. Lank voordat die baanbeamptes vir ons die reëls kan verduidelik, het ons reeds al drie bane vol.

Elsje slaan die bal so hard, die kranse sou antwoord gee, was daar enigsins kranse in die omtrek. Arme Ettienne skeur toe sy kuitspier binne 15 minute en neem maar weer sy rol as fotograaf in.

Ek oorleef net-net ‘n wedstryd saam met subredakteur Smittie aan my kant, teenoor subredakteur Williene en die ‘Terminator’ Elsje aan die anderkant.

Vanaf al drie bane word daar gelag en aanmerkings gemaak. Sifiso (joernalis) en Christiaan beland albei ‘n slag of wat plat op hul mae soos wat hul duik agter balle aan.

Ons is dankbaar vir die koue water en koeldrank wat Emerald se personeel agter ons aandra. Oor middagete besef ons die spanbousessie het ons goed gedoen. Miskien moet ons volgende keer tenpin bowling probeer, ten minste is dit nie in die son nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button