VANDERBIJLPARK – Soleil Scheepers vier haar 80ste verjaardag die jaar. Onlangs het sy haar eie komposisie, Vlytige Vingers, ingeskryf in die Ope Afdeling van die Vereeniging Kunstefees en ‘n A+++ verdien.
Synde dat ‘n A++ beteken dat iemand 90%-plus verdien het, moet ‘n A+++ baie naby aan perfeksie wees. Vandat sy kan onthou het musiek ‘n groot rol in haar lewe gespeel.
“As sesjarige het ek my oumas se traporreltjies gespeel. Ek het nie opleiding gehad nie, maar net die note gedruk en agter my eie stem aan gespeel,” vertel sy.
Sy het in die Oos-Kaap se appelwêreld grootgeword en onder andere in Uniondale skoolgegaan terwyl sy in Despatch gebly het. Soleil het eers in standerd twee (graad vier) haar eerste musiekles geneem.
Die volgende jaar het sy haar eerste musiekeksamen deur UNISA afgelê. “Ek was altyd lief vir toneel en musiek en het ook in etlike toneelstukke gespeel.” I
n haar en haar tweede man, Albert, se aftreehuis staan ‘n ou klavier. Behalwe dat die klavier nog elke dag gespeel word, is daar ook ‘n storie daaragter.
Soleil is destyds na standerd agt uit die skool en het by die poskantoor as sentrale begin werk. “Ek het met my eerste salaris ‘n deposito vir die klavier neergesit,” vertel sy trots.
Deur die jare het sy baie privaatlesse gegee en op troues gespeel. Sy neem ook gereeld waar as kerkorrelis. In 1967 is sy getroud en sy en haar eerste man het vier kinders gehad.
“Ek het my finale eksamen in musiek gekort en wou dit graag doen, maar die musiekprofessor by die Universiteit van Port-Elizabeth het gesê ek sal tot ses ure per dag moet oefen. Hoe sou ek dit kon regkry met vier baie jong kinders?”onthou sy daardie diep teleurstelling.
“Ek het wel klavierlesse begin gee en wonderlike leerlinge in Despatch gehad.” Haar man het egter baie siek geword en die gesin het Vereeniging toe getrek waar sy stadig maar seker weer ‘n groepie privaat leerlinge opgebou het.
Na die afsterwe van haar man het sy in 1994 Vanderbijlpark toe verhuis. Hier het Amanda Potgieter haar omgepraat om te help met Laerskool Noordhoek se junior koor.
Toe Amanda ‘n nuwe pos aanvaar by die Laerskool Totius het Soleil saamgegaan. “Ons koor tree weer 5 September by River of Life op,” maak sy seker daar word nie te veel op haar eie prestasies gekonsentreer nie.
“Was ook nie net ek wat deelgeneem het nie,” keer sy vinnig toe die kollig te skerp op haar val. “Oom Albert het ‘n A++ vir sy weergawe van Down from His Glory gekry in die ope sang afdeling,” beduie sy baie trots.
