Herrie los oor beplande Gauteng-nommerplate
Gautengers gaan nuwe nommerplate vir hul voertuie moet aanskaf, maar niemand weet nog juis presies wanneer of hoeveel dit jou uit die sak gaan jaag nie.

Die idee agter die nuwe slim nommerplate is om voertuigkloning, handel in gesteelde voertuie en die gebruik van vervalste nommerplate in kriminele aktiwiteite, aansienlik te verminder.
Dit gaan oor die ontwrigting van kriminele netwerke en die verbetering van padveiligheid.
Dit sal na verwagting vroeg in 2026 in werking tree.
AfriForum het intussen ’n interne appèl by die Gautengse Departement van Vervoer ingedien nadat die burgerregteorganisasie se aansoek om inligting oor die beoogde nuwe nommerplate vir die provinsie in te win, verontagsaam is.
AfriForum dring daarop aan dat die provinsiale departement die beoogde koste en die gepaardgaande herregistrasiekoste van hierdie nommerplate bekend moet maak, asook hoe lank voertuigeienaars die geleentheid gaan hê om hul ou nommerplate te vervang.

AfriForum wil verder weet op watter navorsing die bewerings geskoei is dat die nuwe nommerplate, wat bykomende veiligheidskenmerke bevat, algehele padveiligheid sal verbeter.
Volgens Louis Boshoff, veldtogbeampte by AfriForum, is daar geen syfers met die publiek gedeel oor hoeveel vervalste nommerplate daar in die provinsie is en hoeveel voertuie met vervalste nommerplate by misdaad betrokke is nie.
“Solank misdadigers daarmee kan wegkom om sonder nommerplate op hul voertuie te ry, gaan dit geen verskil maak hoe goed die vereiste nommerplate is nie,” sê Boshoff.
“Dus lê die oplossing by beter wetstoepassing, nie nuwe foefies nie.”
Die nuwe nommerplate is ’n projek wat deur die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, geloods is. Dié nommerplate word reeds van Junie af op die provinsiale regering se voertuie geïnstalleer.
“Daar is meer as 3.5m voertuie in Gauteng. Dit beteken dat die premier sowat 7miljoen nuwe nommerplate vervaardig wil hê, maar hy is nie eens bereid om bekend te maak hoeveel dit sal kos nie, dit is onaanvaarbaar,” sluit Boshoff af.
