VANDERBIJLPARK – Roxy de Beer het by die onlangse Vereeniging Kunstefees drie A+ en twee A sertifikate ontvang vir haar kunswerke.
“My kunsjuffrou sê hulle het hierdie jaar baie streng gemerk,” beduie sy voordat sy kantoor toe draf om haar skilderye en sertifikate te kry.

Sy is in graad vyf aan die Laerskool D.F. Malherbe en ‘n besige enetjie daarby. Alhoewel sy van kleinsaf verf en teken, is dit nou haar tweedejaar wat sy formele kunsklasse neem.
Dat sy ‘n sterk verbeelding het en kreatief dink, kan uit haar werke gesien word. ‘n Kat se gesig baie duidelik uitgebeeld, maar in “wilde kleure” soos wat sy dit noem.
Sy hou veral van goed wat sy sommer so uit haar kop kan teken. “Kuns is my ontspanning. Dit moenie boring raak nie,” skud sy kop.
Hoe meer kleure, hoe beter en haar pa moet voorbly om die verf van oor die jare. “My ma gaan van dit nou begin verkoop in haar winkel,” lag sy, “daar is te veel vir die huis.” te koop.
“Ek is nou besig met ‘n seekat, maar dit gaan ook baie kleure wees,” vertel sy opgewonde. Kunsklasse is net op ‘n Vrydag, want die res van die week is sy besig met verskeie sportsoorte en spesiale wiskundeklasse.
Nie dat sy net by die klasse verf nie. Haar ouerhuis, haar ouma se huis en haar eie kamer bevat al baie van haar kunswerke
“Ek wil eendag ‘n kunstenaar word,” verklaar sy plegtig, “en ook ‘n dokter.” Roxy, jou skilderye word uitgestal en verkoop, jy is reeds ‘n kunstenaar. Doen net so voort!
