Ervaar die ‘skoner’ brul van ‘n Mustang
Festival of Motoring word jaarliks met 'n groot rooi kring op die kalender gemerk. Want dit is voorwaar 'n hoogtepunt wat nie deur petrolkoppe gemis moet word nie.
Vanjaar vind dié feestelike geleentheid van 29 tot 31 Augustus by die ikoniese Kyalami Grand Prix-renbaan plaas.
Die Automotive Remanufacturers’ Association (ARA) skakel vanjaar na ‘n hoër rat wat innovasie en opwinding betref.
ARA is sedert 2017 ‘n dryfkrag agter die gebruik van LPG-outogas en bevorder dit as ‘n skoner, meer volhoubare alternatiewe brandstofbron.
Die Green Drive-inisiatief beklemtoon die ongelooflike potensiaal van LPG-outogas en wek toenemende belangstelling van plaaslike werkswinkeleienaars en vlootmaatskappye, wat gretig is om omskakelingsgeleenthede te ondersoek en te implimenteer.
ARA en die RMI gaan ‘n Ford Mustang 5.0 GT (omgeskakel om op vloeibare petroleumgas (LPG) te funksioneer) ten toon stel.
“Met ‘n 10-gang SelectShift outomatiese ratkas en kiesbare bestuurmodusse, insluitend baan, sleepstrook en sport, bereik dié ‘monster’ ‘n spoed van 0 tot 100 km/h in net 4.9 sekondes, met ‘n topspoed van 250 km/h. Dit is gewaarborg ‘n skouspel,” sê Attie Serfontein, nasionale direkteur van ARA.
“Die LPG-omskakeling beklemtoon dit die potensiaal vir groener, skoner bestuur-plesier, sonder om op werkverrigting in te boet.”
Hierdie omskakeling word nie net as ‘n tegnologiese mylpaal beskou nie, maar is ‘n duidelike bewys wat die toekomstige motorbedryf kan inhou.
Die Mustang sal regdeur die geleentheid op die renbaan te sien wees.
Festival of Motoring lok jaarliks duisende motorentoesiaste, en omdat dit net sowat ‘n uur se ry van die Vaal is, natuurlik ook baie Vaaldriehoekse inwoners.
Of jy nou ‘n motor-liefhebber, ‘n nywerheidsbelanghebbende is, of net die brul van ‘n Mustang wil hoor, moet jy jou weg vind Kyalami toe.
