RUBRIEK – Maandagoggend moet ek 08:00 by Curro Skool in Vanderbijlpark aanmeld. Vir hul saalopening. Daag so neffens na 08:00 op.
Vat ‘n wyle om ‘n oop deur te kry waar ek kon inglip. Vir ‘n oomblik dink ek, die deur waardeur ek wil skiet is dalk die een wat my na die verhoog se kant gaan neem.
Ek kan my net die gesigte indink wanneer ‘n joernalis skielik haar verskyning, kamera en al, op die verhoog maak. Gelukkig maak die deur toe in die agterkant van die saal oop met verskeie stoele agter oop.
Die opening het al begin. Die hokkiespanne word verhoog toe geroep en gelukgewens met hul puik vertonings oor die naweek.
Tipies saalopening. En toe skielik is dit nie. Op die verhoog verskyn daar tafels wat so van ver af amper vir my na snoekertafels gelyk het of dalk van daardie kroegies wat mens altyd op Amerikaanse televisiekanale sien op Hawai se strand.
Verskeie kinders en ‘n onderwyser (by die skool word hul opvoedkundiges genoem) maak hul verskyning almal in swart geklee, stokkies in die hand. Agter op die groot skerm verskyn die naam, The Marimbas.
Die jongmanne en dames trek daar weg en begin die marimbas te speel. Ek staan eers gefassineer en luister. Die saal is doodstil behalwe vir die opgewekte klanke.
Ek lig my kamera en neem twee foto’s. Die helfte van die saal draai om, om te sien waar die onverwagse flits vandaan kom.
Bewus daarvan dat ek die towerkrag versteur het, gaan neem ek liewer weer sitplek in en luister net verder.
Dis ‘n lekker saalopening dié. Dan is dit tyd vir die eintlike rede vir my besoek. Die graad 11’s het as deel van hul besigheidstudies ‘n projek aangepak om klere te ontwerp en te maak deur gebruik te maak van herwinbare materiaal in die huis.
Elkeen kry ‘n beurt om onder groot toejuiging van hul medeskoliere soos wafferse modelle op die verhoog te pronk en dan op ‘n rooi tapyt tot agter in die saal te loop.
Teen die tyd wat almal verby is in hul klere van sak en koerant, skraap hul onderwyseres hul bymekaar dat ons ‘n foto buite gaan neem.
Op die verhoog maak ‘n leerling gereed om klavier te speel. Weereens is daar groot toejuiging.
“Is jul saalopeninge altyd so lewendig?” vra ek in my beste Ingels vir die juffrou. “Nie altyd nie, maar die meeste van die tyd,” glimlag sy.
Tye het voorwaar verander. In my hoërskooldae het die onderwysers statig en stil op die verhoog gesit. Die skoollied, en soms die vlaglied en volkslied, is gesing. Die hoof het die afkondigings gedoen.
Onder het die kinders doodstil gesit van standerd 6 tot standerd 9 en bo in die galery het die matrieks stelling ingeneem. Meeste van die tyd gedissiplineerd, want ons onderwysers het skerp oë en vinnige rottangs gehad.
Handeklap was aanvaarbaar, maar op en af spring en met koerantrokke loop sou dalk heelwat fronse en hoofpyne veroorsaak het.
