VANDERBIJLPARK – Kaptein Albert van der Berg is op 24 Julie oorlede, nadat hy die 11de ‘n sewende beroerte gehad het.
Sy vrou, Elsie sê hy is twee jaar gelede ook met vaskulêre dimensie gediagnoseer, maar ten spyte daarvan was hy steeds fiks en gesond. “Hy het nog geboks,” vertel sy. Albert sou oor ‘n maand sy 65ste verjaarsdag vier.

Hy het in Vereeniging grootgeword en het op 19 Desember 1978 by die Polisie Kollege ingeklaar. Na sy basiese opleiding was hy vir dekades deel van die polisiediens, van onder andere die onluste eenheid in die Vaaldriehoek tot by besigheidswag vanaf 2004 – 2011.
Weens die beroertes wat hy in sy 50’s gekry het, is hy eers op ligte diens en daarna vroeg op pensioen geplaas toe hy 55 jaar oud was.

Albert was tot die einde toe lief vir sport en het sy hand aan vele sportsoorte in die polisie gewaag, waaronder boks, muurbal, rugby en krieket. Hy het ook sewe Comrades marathonne voltooi.
Elsie het leërs vol van sy sertifikate en koerantuitknipsels wat sy lof besing as sportster en as polisieman.
“Hy het die afgelope paar jaar ‘n groot soettand ontwikkel en ek moes gereeld die kleinkinders se lekkergoed wegsteek. Albert het van warm sonskyndae gehou. Dan het hy altyd gesorg dat hy buite sit.
“Hierdie was ons huis. Ons het 31 jaar in die straat gebly en was 36 jaar getroud. Ek mis hom baie,” sê sy.
Albert het een dogter, Emma, uit sy eerste huwelik en die egpaar het saam twee kinders, Adriana en Gerhard. Hy laat ook drie kleinkinders agter.

‘n Afskeidsdiens is 1 Augustus vanuit die Dinamika Kerk in Vanderbijlpark vir hom gehou.
Op die voorblad van die begrafnisbrief is daar ‘n foto van Albert waar hy oor die water tuur met Diep Spore daarnaas gedruk.
Lees mens die boodskappe in die brief, dan weet jy, hy het inderdaad diep spore oor baie mense se lewenspadjies gestap.
