NewsNews

Dis tradisie, dis pret, dis die Langslaners Ryders Cup

Elke jaar sê twee spanne van 12 mekaar die stryd aan op die gholfbaan vir die Langslaners Ryders Cup en elke jaar is daar meer pret en lag.

VANDERBIJLPARK – Elke jaar trek 24 gholfspelers, die meeste uit die Vaaldriehoek, saam vir ‘n baie spesiale gholftoer.

Hul noem dit die Langslaners Ryders Cup en die jaar het die Blou Span weer die Rooi Span aangevat op drie bane oor drie dae aan die Suidkus van KwaZulu-Natal.

Die twee kapteine Francois Herbst (Blou span) en Meyer Prinsloo (Rooi span).

Dag een het die gras en sand gespat by die Wild Coast Country Klub, dag twee by die Southbroom Country Klub en dag drie by die San Lameer Country Klub. Daar was 12 spelers in ‘n span, met amper meer trofees en pryse as gholfspelers.

Nadine Herbst het bankvas agter die Blou Span gestaan en elke dag gesorg dat sy hul goed motiveer. Een van haar boodskappe aan die manne in blou het gelui:

“Luister hier, my legendariese Blou Span — julle is nie net spelers nie, julle is balle-bemeesterende kunstenaars! Ek glo in elkeen van julle: van die een wat die sandput behandel soos ‘n spa-dag, tot die een wat ‘n putjie so elegant laat rol dat die gras self buig in eerbied.

“Ons slaan nie net balle nie… ons stuur hulle huis toe met ‘n GPS-koördinaat en ‘n afskeidsbrief. Elke hou is ‘n liefdesbrief aan die fairway, en ‘n waarskuwing aan die vlag: ‘Ons kom vir jou!’

“En as daardie einde ons hou sien, sê hy nie net ‘mooi’ nie — hy sê: ‘Ja, baas.’ Kom ons gaan wys die wêreld hoe ‘n blou span blitsig blink!”

Na drie dae van harde gholf met baie lag tussenin, het die einste Blou span vir die derde agtereenvolgende jaar as die kampioene uit die stryd getree.

Na elke dag se spel is daar trofees uitgedeel vir Nearest to the Pin en Longest Drive, terwyl die Feses Trofee gaan aan die speler wat die dag se bal eerder as ’n graaf gebruik het.

Henco van Wyk en Andre Rossouw met hul Feses bekers omdat hul eerder die bal as ‘n graaf gebruik het.

Daar is ook elke dag boetes uitgedeel vir alles van swak spel tot modeoortredings. Aan die einde van die toer het die volgende manne met die spesiale toekennings weggestap:

Meyer Prinsloo (Rooi span kaptein) het die Nataniel Trofee ontvang — nadat die Blou span hom op dag twee gewaarsku het dat hy hare op sy tande gaan moet hê. Daar was selfs sprake van ’n bles man se kam om die sand uit sy wenkbroue te kam.

Theo van der Walt het die Filantroop Trofee ontvang as die moederhen van die groep met ’n hart groter as sy gholfsak.

André van Stryp het die Melomaan Trofee gewen, sy musiekkennis is so indrukwekkend, hy kon ’n speellys saamstel vir elke bunker.

Francois Herbst oorhandig die Giniel de Villiers trofee aan Coenie Potgieter

Coenie Potgieter het die Giniel de Villiers Trofee gekry nadat sy gholfkarretjie ’n duik geneem het — letterlik. Hy het ook die Brompot Trofee ingepalm, vir redes wat ons eerder nie op papier sit nie.

Oor een ding is almal eens, die Langslaners Ryders Cup is nie net ’n toernooi nie, dis ’n broederskap, ’n avontuur, en ’n herinnering dat sport die beste stories skryf.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button