NewsNews

Hierdie Braaidag kan jy na dié vertoning braai

Natuurlik word daar 24 September gebraai, maar die jaar kan die vure net so bietjie later brand gemaak word, want die vertoning wil jy nie mis nie.

SASOLBURG – Neil Sandilands is eersdaags weer in die Etienne Rousseau Teater (ERT) te sien. Dis die derde jaar in ‘n ry wat hy in die Vaaldriehoek kom kuier en die keer met die vertoning, Die Vyftigers.

Die saak staan so. Afrikaans vier sy 100ste herdenking as amptelike taal, dit alleen is die moeite werd vir ‘n fees, maar toe Neil agterkom drie van sy mede-musikante/vriende word saam met hom 50 die jaar, het die vonke gespat.

DIE VYFTIGERS is die immergewilde Neil Sandilands se breinkind. Foto: Stuart Photography

“Ek, Schalk Joubert (ons baskitaarman), Gian Groen en Abel Kraamsaal het so ‘n paar nuutskeppinge en dan het elkeen ook van hul eie katalogus gebring.

Ons kyk ook terug op die 1970’s. In 1976 het ons vir die eerste keer televisie gekyk in SuidAfrika. Daardie jare het ons nog leë melkbottels met koepons buite die deur gelos en die volgende oggend vol bottels melk gekry’” gesels Neil.

“Die vertoning word die kapstok van Afrikaans en elkeen van ons bring ‘n unieke aanslag wat ons dan aan die kapstok hang.” Hy is ook opgewonde omdat hulle juis op 24 September by die ERT gaan optree.

“So op Braaidag gaan ons almal vir ‘n oomblik in tyd op dieselfde plek wees. Gaan almal kan ontspan, maar ook dink waar jy vandaan kom en waarheen jy moontlik op pad is,” raak hy filosofies.

Foto verskaf/Etienne Rousseau Teater Facebook

Die vertoning word beskryf as ‘n produksie wat eerlik, rou en reguit is, vol liriek, lag, melodie en menswees. Elke kunstenaar bring sy eie storie, instrument en kleur na die verhoog en tussen hulle vier loopbane is daar meer as 200 jaar se kreatiewe gravitas, elke noot en elke sin is deurdrenk met betekenis.

Die vertoning is ten volle in Afrikaans – ’n danksegging aan die taal wat dit alles moontlik maak. Of jy nou ’n aanhanger is van Afrikaanse musiek, die kunstenaars self, of eenvoudig op soek is na iets eg, diep en vermaaklik– hierdie vertoning is ’n moet-sien!

“Wat kry jy as jy vier duidelike persoonlikhede op een verhoog sit, wat elk ’n instrument bespeel, ’n ordentlike liriek kan pen en derms het wat brand? Sprankel ’n aweregse Afrikaanse woordeskat, sprinkel ’n titsel selfnegerende humorsin, ’n spatsel witblitz, ’n slurpie Boere Zen en ’n draggie 50 jaar oue hardehout.

“Daar het jy dit. Die resep vir ’n aand se eersteklas vermaak: Die Vyftigers. Amper soos Trompie en die Boksombende. As ek dan nou Trompie is, en Gian is Rooies, Abel is Dawie, Briers Coetzee (ons klankingenieur wat ook kan Cajon speel) is Blikkies, dan is Schalk mos Boesman die brak.” – só sê Neil Sandilands.

Die vertoning begin om 15:00 en kaartjies kan bespreek word by www.ertickets.com.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button