Local newsNewsNews

Jy kan hulle nekke breek maar nie hul gees nie

Francois en Brandon se veggees is onblusbaar

VANDERBIJLPARK – Daar is min dinge wat ’n ongemaklike of ongewone ontmoeting so vinnig kan verlig soos ’n goeie sin vir humor. Dit is weer bewys toe Brandon Moolman, ‘n kwadrupleeg en trauma-berader, vir Francois Kruger gaan besoek het.

Francois, ‘n leerling aan die HS Transvalia, het skaars tien dae vantevore sy nek in ‘n rugbywedstryd gebreek, maar hier sit hy kiertsregop op die kant van sy hospitaalbed, terwyl ek hinkepink met my Moonboot by die Kruger-woning ingestap kom. Die atmosfeer voel aanvanklik swaar. Soos oudergewoonte oorval die impuls my om die ys met ‘n grappie te breek.

Na ek almal gegroet het, noem ek dat my af poot mooi inpas by die uitgelese groep. “Jy moet jou nek breek om deel van die groep te wees,” se Brandon tong-in-die-kies met ‘n skalkse glimlag. Sy spitsvondigheid ontlok onmiddellik ’n egte lagbui van almal in die kamer – ’n ligte oomblik te midde van moeilike omstandighede.

Dit is presies hierdie soort humor en menslikheid wat Brandon telkens gebruik om hoop te bring waar dit die nodigste is. Brandon wat ‘n bedrewe hokkiespeler was, het sowat vyf jaar gelede sy nek in fratsongeluk gebreek toe hy en vriende van ‘n brug af in die Vaalrivier ingespring het.

“My grootste vrees was altyd om die gebruik van ‘n arm of been te verloor. Die eerste paar dae na my ongeluk was dit vir my moeilik toe ek besef het ek gaan nooit weer hokkie kan speel nie.

‘n Paar dae later het daar ‘n skakelaar in my kop afgegaan dat ek nie depressief gaan raak en ‘n slegte situasie vir myself nog slegter gaan maak nie,” gee hy te kenne. Die twee manne het egter meer as gebreekte nekke in gemeen. Hulle deel ‘n onwrikbare veggees en ‘n vermoë om terugslae te verwerk.

“Ek dink my sport het iets daarmee te doen. Ek het van kleinsaf gewoond geraak aan wen en verloor. Dit het my kop sterker gemaak en my ‘n hupstoot gegee om terugslae te verwerk,” verduidelik Brandon. Francois beaam dit: “Alles gaan oor jou mindset. Ek het nie paniekerig geraak nie en net geluister na my ouers,” vertel Francois.

Hoewel Francios eers oor ses weke sal weet wat die pad vorentoe alles gaan behels, sterk hy mooi aan. Die feit dat hy loop en kitaar speel 10 dae na sy besering word deur medici as ‘n wonderwerk beskou.

Brandon se boodskap aan hom was kort en kragtig. Wees realisties. Vergeet vir nou van die groot prentjie. Moenie te hoog mik nie, gee klein treetjies en geniet die wenne op die pad.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button