VANDERBIJLPARK – Na vier jaar se gejaag na wind het Brandon Moolman (29) uiteindelik sy roeping gevind.
Die kwadrupleeg van die Vaaldriehoek het vyf jaar gelede sy nek in ‘n fratsongeluk gebreek, slegs drie weke voordat hy sy studies aan die Noordwes-Universiteit se Vanderbijlparkkampus (NWU Vaal) sou voltooi.
Na sy rehabilitasie het hy vergeefs vir vier jaar probeer werk vind. Maar van opgee ken hy nie. Hy werk nou vir homself, nadat hy ‘n erkende trauma-beradingskursus voltooi het.
“Ek wou nog altyd mense help en nou kan ek dit doen. Ek was hiervoor bestem,” sê hy opgewonde. Volgens sy pa Dr. Leon Moolman, ‘n dosent aan NWU Vaal, het Brandon nog nooit gekla of homself bejammer nie. “Die eerste paar dae na my ongeluk was dit vir my moeilik toe ek besef het ek gaan nooit weer hokkie kan speel nie.
‘n Paar dae later het daar ‘n skakelaar in my kop afgegaan dat ek nie depressief gaan raak en ‘n slegte situasie vir myself nog slegter gaan maak nie,” vertel hy. Hy het voorts NWU Vaal se tweede hokkiespan vir twee jaar afgerig en sy kennis so teruggeploeg.
Volgens hom fokus sy berading daarop om die traumatiese gebeurtenis te herstruktureer sodat daar meer positiewe en betekenisvolle emosies daaraan gekoppel word. Benewens traumaberading tree hy ook as motiveringspreker op.
Volgens sy pa beoog hulle weer ‘n fondsinsameling vir Brandon se NPO Walk by Faith 06. Hoewel Brandon aanlyn en in persoon berading doen, is hul droom om vir hom ‘n bussie te kry wat ingerig is vir ‘n kwadrupleeg se unieke behoeftes.
Indien jy trauma berading benodig of ‘n bydrae tot sy niewinsgewende organisasie (WBF06) wil maak, kan jy die volgende bankbesonderhede gebruik (daar is o ok 18A-sertifikate beskikbaar vir skenkers): Nedbank Rekeningnommer: 120 589 3229, Takkode: 198765, Tjekrekening, Swift Code: NEDSZAJJ, Verwysing: Naam en van.
