Spring Run pret al die pad Vaaldam toe
Alle klassieke voertuig-eienaars word genooi om deel te wees van die saamtrek vol nostalie en kleur.
VEREENIGING – Die pad na Vaaldam gaan binnekort iets wees om dop te hou, want op 7 September gaan die roete ‘n lus vir die oog wees wanneer klassieke motors, Beetles, Beach Buggy’s en bussies hul weg maak na Vaaldam vir die Aircooled Spring Run.
Deelnemers ontmoet 08:00 by River Square in Drie Riviere, waarna die konvooi vertrek na die gewilde De SluisHuis by die Vaaldam.

Daar wag ’n gesellige ontbyt, en die voertuie sal op skou wees vir besoekers wat die klassieke motors van nader wil bewonder.
Volgens die organiseerders gaan die dag oor meer as net motor: “Ons wil soveel as moontlik liefhebbers van unieke en klassieke motors bymekaar kry”.
Die soet klanke van lugverkoelde enjins gaan aan die orde van die dag wees.
Belangstellendes word aangemoedig om saam te ry of eenvoudig by De SluisHuis aan te sluit om die motors te besigtig.
* Vir meer inligting kan die Facebookblad: Beetles and Buggy’s Vaal besoek word.

