Wanneer sy nie uit vliegtuie spring nie, trek sy graag die versneller van haar pêrelwit Suzuki Hayabusa ysterperd op die langpad oop.
Maar sy kan ook sonder dat daar adrenalien in haar are bruis, net rustig met haar hondekinders speel of in haar pragtuin werk, vertel sy skertsend.
Op 60-jarige ouderdom is daar min dinge wat nog op Carin Meyer, ‘n fisioterapeut van beroep, se bucket list oorbly om te doen.
Sy het op 3 Augustus tydens haar 60ste verjaarsdag ‘n reuse geskenk gekry toe sy en dapper vroue twee nasionale valskermrekords wat sedert 1995 staan, verbeter het. “Die gevoel was asemrowend en dit was ‘n groot eer.
Daar was baie druk op almal, want een fout kon die hele poging bederf het,” vertel sy. Die feit bly staan dat vir die eerste keer in 30 jaar is die vroue-formasie valskermspringrekord oortref en ‘n Vaaldriehoeker was deel van die brokkie geskiedenis.

Ná maande se toewyding, voorbereiding, moed en spanwerk het 15 vroue saam ’n perfekte formasie gevorm en só die vorige 14-sprongrekord verbeter.
Hulle het boonop ’n tweede rekord opgestel met ’n tweepunt 15-sprong formasie, wat die bestaande 11-sprongrekord van Junie verpletter het. Hoewel sy nie vandag se kind is nie, sal haar fiksheid en kondisionering vele jongelinge rooigesig laat.
“Ons het ‘n intense oefenprogram in die gym gevolg. Elkeen se valspoed verskil en moet daarvoor voorberei. Omdat elk net 60kg weeg moes ek 5kg bygedra het vir die sprong. Daar was oefenkampe en die voorbereiding was intens.”
“Die spangees was ongelooflik. Ons het baie ervaring in die groep en elkeen het geweet wat van hulle verwag word,” verduidelik sy. Volgens haar is veiligheid die springers se hoofprioriteit, maar elke springer weet dat hy homself een of ander tyd in ‘n noodsituasie gaan bevind.
“Dit het met my 800ste sprong gebeur toe ek ‘n cutaway moes doen nadat my toerusting wanfunksioneer het.” Volgens haar is die landings nogals baie uitdagend.
“Ek tuck en roll maar, want ek het al ‘n paar keer Moeder Aarde goed ontmoet.” Wat haar toekomsplanne betref is sy ‘n bok vir sport solank dit veilig is.
“Ek sal by nog rekordpogings wil betrokke wees as hulle my kies, maar ek sal nie ‘n nagsprong doen nie. Ek wil graag by afrigtingbetrokke raak,” sluit sy af.
