Rubriek: Slegte dinge in veelvoude van drie
Ongelukkig het Khamzat iets geweet wat Dricus nie geweet het nie

Almal weet slegte dinge gebeur in veelvoude van drie. Die afgelope naweek se sport treurmare het dit weer bewys.
Dit was inderdaad ‘n donker naweek vir Suid-Afrikaanse sport met die Bokke, Proteas en DDP wat almal streepsuiker gekry
het.
Om eerlik te wees, ek het verwag dat Suid-Afrika se geliefde hokvegter, Dricus du Plessis, sy UFC Middelgewigtitel aan Khamzat Chimaev gaan afstaan. Wat egter my wind uitgeslaan het, was die Springboknederlaag op Ellispark.
Hoe op dees aarde verspeel jy ‘n voorsprong van 22 punte? Maklik… Jy huppel van jou sterkpunte weg en begin Barbarianhardlooprugby
speel wat slegs vir ‘n vertoonwedstryd beskore is.
Dan is daar Manie Libbok-sindroom, hy is óf vuurwarm óf yskoud. En Saterdag was sy kwaal hoogs aansteeklik.
Dit gaan mens se verstand te bowe dat ‘n talentvolle speler met soveel vaardighede en vernuf soveel tjol kan aanjaag. As mens nie van beter geweet het nie sou mens dink dat wedstrydknoeiery hier betrokke was.
Die Bokvertoning het mens aan basketbal se Harlem Globetrotters laat dink… skouspelagtig en prettig aan die begin, maar
heeltemal ondoeltreffend op die ou einde.
Maar moet nou nie jou Springboktrui verbrand en die as in ‘n nis bo-op jou kaggel se rakkie sit nie. Die Aussies gaan dit berou dat hulle Bok se
kind op tuisbodem verneder het. Rassie-hulle moet net weer terugkeer na die spelpatroon wat ons Bok-DNA komplimenteer.
Dr. Rassie het diepte in elke posisie geskep, iets wat ons nog nooit tevore gehad het nie. Rassie het dit mooi opgesom, die Bokke was
hondk@k. Maar ek het ‘n vermoede daar gaan eerskomende Maandag ‘n tenderproses geloods word om Wallaby-mis by die DHL stadion in Kaapstad te verwyder.
Wat SA Rugby se gulsige administrateurs meer moet bekommer is die leë sitplekke op Ellispark. Die voormalige Springbok-afrigter, Nick Mallet, het destyds in 2000 die trekpas gekry toe hy die Suid-Afrikaanse Rugbyvoetbalunie van gulsigheid beskuldig het. Kaartjies vir die Drienasies het toeskouers R300 uit die sak gejaag.
In 2025 kan ‘n kaartjie jou tussen R1 050 en R4 000 uit die sak jaag, afhangende waar jy sit. Vat jy jou vrou en kinders saam sal jy
waarskynlik ‘n tweede verband op jou huis moet uitneem.
Dan kom ons by die nasionale krieketspan wat darem tot in die laaste boulbeurt ‘n 50/50 kans gehad het om die Aussies te klop en dit
is bemoedigend.
Ek sal die eerste een wees om saam te stem dat die DDP/Chimaev-geveg ‘n sieldodende affêre was, maar die Russiese/Muslim se loopgraaftaktiek was effektief. As hy nie vir onse boerseun telkens grond toe gevat het nie, sou Dricus waarskynlik ‘n uitklophou kon plant. Elke hokvegter het sy sterkpunte. In hierdie stadium van die geveg is Dricus, te eendimensioneel, onortodoks en voorspelbaar.
Stem ek saam dat die reëls oor onaktiwiteit op die grond aangepas moet word? Hel ja! Maar kom ons wees nie Jabroers nie. Toe Faf de Klerk ons tot raserny gedryf het met sy bokskoppe in 2019 was almal tevrede solank die Bokke werêldbekers huis toe bring.
Die bom squad word deur baie in wêreldrugby veroordeel dat dit teen die gees van die spel met die ovaalbal is. Maar solank die reëls dit toelaat, gaan
Rassie-hulle daardie bom cracker voor by die ander spanne se broeke bly indruk.
Of jy vind ‘n teenvoeter óf jy bly stil. Ongelukkig het Khamzat iets geweet wat Dricus nie geweet het nie…
So staan sterk en staan op!
