VANDERBIJLPARK – Die motorfietse het al voor 10:00 by Centurions MCC se klubgronde ingebrul. Elke klub se ryers het saam opgedaag. Buite het vele motors geparkeer gestaan.

Dit was ‘n groot dag vir die Rare Breed motorfietsklub. Hul 20ste verjaarsdag en hulle het al die Vaal se motorfietsklubs genooi om die dag saam met hulle te vier.
Met DJ Ben wat die musiek verskaf het, was daar kort-kort mense aan’t dans, terwyl die bikermanne en dames onder gazebo’s gekuier het.

Rare Breed se President Dave Mitchell het die dag se verrigtinge aan die gang gehou met prystrekkings en speletjies.
Nooddienspersoneellid en self ‘n biker, Jacké Labuschagne, het by die eerste “beer-downing” vir die manne al benoud geraak. Twee spanne van vier mans moes op bierkratte balansseer en dan die derde krat vorentoe stoot, oorklim en so vorentoe beweeg.

Span 1 se een lid se arm was toegebind en in ‘n sling om sy nek wat sy balans geaffekteer het. Span 2 het ‘n lid gehad wat summier sy krukke aan ‘n toeskouer gegee het en toe met ‘n been van bo na onder verbind op die krat geklim het.

Jacké het nie geweet of sy moet bid, foto’s neem of solank ‘n ambulans moet bel nie. Eind goed alles goed, die beseerde manne het nie hul beserings vererger nie.
Rare Breed se bikers het breed geglimlag toe die klub se verjaarsdagkoek uitgebring is en ‘n hele tafel volgestaan het. Die koek is deur een van hul lede gebak en het o.a die klub se wapen opgehad.

Daar is eers ‘n minuut stilte gehou vir bikers, o.a ‘n voormalige lid van Rare Breed, wie onlangs oorlede is alvorens President Dave al die klubs bedank het vir hul teenwoordigheid.
En ja, daar was ‘n traan in die president se oog toe hy die grote verjaarsdagkoek sny om 20 jaar te vier, maar dalk sal hy nou verklaar die sonlig was net bietjie te skerp vir sy oë.
