Misdaadstatistiek: Vroue loop steeds deur
Baie vroue en meisies staar steeds daagliks ernstige bedreigings vir hul persoonlike veiligheid in die gesig.

Misdaadstatistieke wat deur die SAPD en verskeie burgerlike organisasies vrygestel is, bevestig dat vroue erg deur misdaad geraak word, beide in die openbaar en natuulik in die meeste gevalle, agter geslote deure.
“Ons kan nie die alledaagse uitdagings ignoreer wanneer dit by persoonlike veiligheid kom nie,” sê Charnel Hattingh, hoof van bemarking en kommunikasie by Fidelity Services Group.
“Ons moet aanhou om ‘n lig op hierdie kwessie te skyn, nie net hierdie maand nie, maar regdeur die jaar, en vroue te voorsien van praktiese, bemagtigende hulpmiddels om hulself te help beskerm.”
Elke Suid-Afrikaner word aangemoedig om deel van die oplossing te wees deur basiese stappe te neem om bewustheid te verbeter en kwesbaarheid te verminder.
Hier is ‘n paar belangrike veiligheidswenke vir vroue:
1. Voordat jy die huis verlaat, lig altyd ‘n betroubare vriend of familielid in oor jou bestemming. Om te weet dat iemand bewus is van waar jy is, kan ‘n kritieke veiligheidsnet wees in die geval van ‘n noodgeval.
2. Bly waaksaam by OTM’s, winkelsentrums en banke. Vermy die gebruik van donker of afgeleë OTM’s, veral na ure.
3. Wanneer jy bestuur, hou deure gesluit en bly waaksaam, veral wanneer jy by verkeersligte of kruisings stop.
4. Hou jou selfoon binne bereik, maar uit die sig. As ‘n oproep of boodskap nie dringend is nie, wag totdat jy ‘n veilige bestemming bereik het om te antwoord. Afleidings agter die stuur kan jou ‘n maklike teiken maak.
5. Wees bedag met tuisaankoms. Wees op die uitkyk vir verdagte mense of voertuie wat naby jou hek of ingang talm. As jy onveilig voel, ry eerder om die blok, of kontak jou sekuriteitsverskaffer om jou huis toe te begelei.
6. Stoor noodnommers op speed dial. Dit sal kosbare tyd spaar in ‘n krisis, veral as jy in skok of onder druk is. Daar is ook mobiele paniekknoppie-dienste en sekuriteitstoepassings wat deur sekuriteitsverskaffers aangebied word.
