NewsNews

Goeie gees by Noordskool se Chicks-with-sticks

Groot opwinding vir die jong spelers, baie organisasiewerk vir die onderwysers, maar elke jaar word die mini-hokkie dag ten volle geniet.

SASOLURG – Dis elke jaar ‘n goeie resep vir lekker kuier, maar ook georganiseerde chaos.

Dis eenvoudig, meng 650 minihokkie spelers van 10 skole, hul ouers, ondersteuners, kosstalletjies, goeie musiek van ‘n plaaslike radiostasie en jy het Noordskool Primêr se jaarlikse mini-hokkie dag.

Mini-hokkiespelers van Vaalpark Primêr het gesorg dat hulle ‘n foto saam met Noordskool se McFlame kry.

Op 23 Augustus het Noordskool, Heilbron, Lumiére, Leeuwspruit, AJ Jacobs, Parys, Emfulenipark, Eligwa, Fonteine en Deneysville se minihokkiespanne (dis nou van Gr. R – 3) weer laer getrek om saam te speel.

Hierdie jaar het hulle ook vir die eerste keer tennis aangebied en vier skole het daar meegeding. Organiseerder juffrou Angie Potgieter sê dat tennis voortaan deel van die dag sal wees.

Parys Primêr op die aanval.

Die groot aksie was egter steeds op die minihokkie velde waar selfs die doelhokke baie kleiner is en netjies versier was met Noordskool se skoolwapen.

Hul mascot, McFlame, was oral te sien en het groot byval by al die skole se spelertjies gevind. Langs die velde het die skool se prefekte soos wafferse “cheerleaders” te kere gegaan.

Hul opdrag was eenvoudig, “sorg dat julle met dieselfde geesdrif al die skole ondersteun,” en hulle het!

Wanneer jou span te goed is en jy eensaam voor ‘n doelhok moet wag dat die aksie na jou kant toe kom…

Op die bane het die jongelinge mekaar ywerig die stryd aangesê, al was sommige se hokkiestokke amper langer as hulle. Die skeidsregters en afrigters het bontgestaan om seker te maak almal weet darem watter kant toe om te speel.

“Hierdie dag word gehou om die kleintjies die kans te gee om te kan speel. Alle wedstryde is vriendskaplik en daar word seker gemaak die kinders geniet dit. Dit gaan daaroor om ‘n goeie gees op en langs die veld te hê,” het Angie gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button