VANDERBIJLPARK – Die regte diagnose en medikasie en die meeste mense is gou aan die gang. Vir die 11-jarige Megan Matthews het dit nege jaar geneem om die regte diagnose te kry en nog langer vir die regte medikasie.
Sy het sistiese fibrose. Dit veroorsaak dat daar te veel slym in haar longe en om ander organe, soos haar pankreas, pak.
Die slym is ook te dik en omdat dit haar pankreas binne en buite aantas kan haar liggaam nie vanself sout opneem nie en ensieme maak nie.
In Oktober 2024 het Vaalweekblad die Matthews-gesin besoek en kennis gemaak met Megan, haar tweelingsussie Hope en hul twee-jarige sussie Hayley.
Waar Hope ‘n regte huishennetjie is, wil Megan buite wees waar sy kan fietsry, hokkie speel en perdry. Dit was haar nie op daardie stadium beskore nie.

Die afgelope 10 maande het egter groot verandering in Megan se gesondheid gebring. Sy ontvang uiteindelik die regte medikasie, goedgekeur deur hul mediesefonds.
Die medikasie word vanuit Amerika ingevoer en kos by die R208 000 per maand. Megan en haar pa, Westley, is van Januarie af op hul mediese fonds se duurste plan, want dis al plan wat die duur medikasie betaal.
Die ander gesinslede is op ‘n heelwat laer plan. Westley het twee werke, terwyl hul ma Hendriette die tweeling by die huis skool gee, om so ver moontlik te keer dat Megan nie siek raak nie. “Ons werk hard en is altyd so ‘n paar weke voor die kurrikulum,” vertel sy.
Die goeie nuus is dat Megan al 11 cm langer geword het en uiteindelik by die 12 kg opgetel het. Die verskil is merkwaardig.
“Ons is dankbaar. Hoe meer sy groei, hoe meer nuwe longweefsel groei. Haar long kapasiteit het van 70% na 98% verbeter,” sê Westley. “Sy hoes ook nie meer nie. In die verlede moes ons altyd keer as sy begin lag het of wou hardloop en fietsry.
“Sy het selfs van lekker lag, begin hoes en dan naar geword. Nou kan my kind lag soveel as wat sy wil en sy kan buite gaan speel,” en Hendriette se oë blink van ingehoue emosie.
Die slegte nuus is dat saam met die duur ingevoerde medikasie, sy elke keer MCT olie moet drink, en weekliks groot dosisse vitamienes en Ensure. Sy moet ook elke drie maande gaan vir long en lewer toetse, ‘n sweet toets en elke ses maande vir oogtoetse omdat die spesiale medikasie katarakte kan veroorsaak.
Alhoewel die toetse verpligtend is, betaal die mediesefonds nie vir alles nie. “Ons het baie bybetalings en die mediesefonds se dag-tot-dag spaarrekening was reeds in Maart uitgeput,” skud Westley kop.
Om Megan se mediese onkostes te dek is daar verlede jaar al met ‘n Back-a-buddy rekening begin. Enige donasies sal waardeer word.
