VANDERBIJLPARK – Mev. Bets Pretorius (74) is steeds getraumatiseerd nadat sy vir ure vasgebind in haar en haar man, Lucas, se tweeslaapkamer wooneenheid in Kiewetsnes aangehou is.
Kiewetsnes is deel van Jeugland Tehuis vir Bejaardes. Lucas (81) is op 18 Augustus in die hospitaal opgeneem. Hul seun, Enrico, het sy ma elke dag na die hospitaal geneem en laatmiddag weer by die huis afgelaai.

Die Woensdag was geen uitsondering nie. Hy het soos sy gewoonte is, getoets dat die veiligheidshek gesluit is voordat hy vertrek het.
“As Lucas nie hier is nie, gaan slaap ek gewoonlik vroeg, maar ek slaap nooit baie diep nie. Ek los ook nooit vensters oop as hy nie hier is nie. Omstreeks 03:00 is ek wakker gemaak deur twee jong mans wat voor my bed beweeg het.
“Die lig was aan. Een van hulle het vir my in Engels gesê dat hy honger is en kos soek. Ook dat hulle kontant wil hê. Hulle het my ook gevra of ek juweliersware en wapens het,” vertel Bets.
Sy is aangesê om om te draai, waarna hulle haar hande en voete vasgebind het. “Ek het net gehoor hoe gaan hulle in en uit en hoe hulle alles uitgooi en omkeer. Uiteindelik het een vir my kom sê dat hulle nou gaan loop.
“Daarna het hulle kouse in my mond gestop en ‘n serp styf om my nek gedraai. Ek kon skaars asem kry en kon nie beweeg nie.” Bets vertel sy het net lank daar gelê en bid dat iemand haar sal kom red.
Uiteindelik het sy besef sy sal haarself moet help. “Ek het probeer om te draai en kon toe op die horlosie sien dat dit al naby 10:30 was.”
Dis toe dat sy haar voete begin skop het en besef dat hulle nie so styf vas was nie. Sy het dit reggekry om te staan en op ‘n stoel te gaan sit, waarna sy haar vingers begin wikkel het totdat haar een hand los was.
“Alles was seer en die hele plek was in chaos. Al die deure het oopgestaan, die ligte was aan en daar is heelwat goed gesteel.”
Eers daarna kon sy via iemand anders se bediende ‘n please call me stuur na haar vriendin wat haar seun gekontak het. Hy het op sy beurt die polisie, ambulans en die bestuurder van Jeugland, Mev. Katinka Nel ontbied.
Alhoewel Bets erg getraumatiseerd was, wou sy nie saam met die ambulans gaan nie. Die polisie het vingerafdrukke geneem, maar die gesin het geen verdere terugvoer al ontvang nie.
Daar was blykbaar geen tekens van geforseerde toegang nie. Katinka sê dis die eerste keer in 20 jaar wat so iets by die oord gebeur.
“Ons waarsku weer dat almal altyd hul huisdeure moet sluit en om nie die groot hek sommer vir enige iemand oop te maak nie. Mense moet ook onthou om hul paniekknoppies altyd binne bereik te hê.”
