VANDERBIJLPARK – Dit word as ‘n wonderwerk beskryf dat 18-jarige Chris Zurcher, ‘n matriekleerling aan die HS Driehoek, ‘n ernstige motorongeluk op 9 Augustus oorleef het.
“Die dokter wat hom die eerste behandel het, het hom slegs 12 ure gegee om te lewe. Nou loop hy op sy eie. Die Here is groot,” het sy ma Ilze aan Vaalweekblad gesê.
Chris het verskeie operasies ondergaan waartydens onder andere sy milt verwyder is. Hy het ook bloeding op die brein gehad en het chirurgie ondergaan om frakture aan sy gesig en kakebeen te herstel. Sy lewer en arm is ook in die ongeluk beskadig.
Hy het sodanig herstel dat hy op 27 Augustus op sy 18de verjaarsdag na die Netcare Rehabilitasie-hospitaal in Aucklandpark oorgeplaas is.
“Daar is vyf en ses terapeute wat met hom werk en assesserings doen. Ons sal vandeesweek met die dokters vergader en weet wat die pad vorentoe behels. Dis ‘n wonderwerk dat hy twee en ‘n half weke na die ongeluk in rehabilitasie is. Hy loop al 200 meter by homself en word nie moeg nie. Hy het ook al twee stelle trappe geklim wat bemoedigend is. ”
Volgens sy ma is daar geheue probleme, maar dat dit normaal is omdat die brein glo afsluit om die individu van ekstreme trauma te beskerm.